MOSSELBAAI NUUS - Twee verdagte mans het met 'n aansienlike kontantbedrag op die vlug geslaan nadat hulle Vrydagmiddag, 31 Augustus op 'n bouperseel in Seemeeu Park toegeslaan het.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie is 'n kontrakteur omstreeks 14:30 deur twee verdagtes oorval toe hulle uit die bosse op hom afgekom het en hom met 'n vuurwapen gedreig het.
Die verdagtes het die kontant waarmee werkers betaal sou word, asook die kontrakteur se selfoon geroof.
Hulle het ook die kontrakteur se voertuig sleutels by hom afgevat.
Beide mans is volgens inligting Sotho magtig.
Werkers op die bouperseel wat onraad bemerk het, het nader beweeg waarna een van die verdagtes twee waarskuwingskote na die grond gevuur het.
Hierna het die verdagtes gevlug na die N2 waar 'n wit Opel-voertuig hulle volgens inliting opgelaai het. Geen arrestasies is nog in verband met die voorval gemaak nie.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie het kontrakteurs gemaan om uiters versigtig te wees. "Dit is raadsaam om te let op jou roetine wanneer werkers betaal word.
"Misdadigers weet dat uitbetalings gewoonlik weekliks op Vrydae geskied, daarom is dit nie moeilik om hulle modus operandi hierrondom te beplan nie. "Ons versoek kontrakteurs en ook ander besigheidseienaars om te kyk na hulle daaglikse en weeklikse roetine ter wille van hulle eie veiligheid."
Die saak word ondersoek deur sers Adel Binneman. Enige persoon met inligting kan haar kontak (044 606 2233).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'