MOSSELBAAI NUUS - Twee rowers wat die gemeenskap en polisie etlike hoofbrekens besorg het, is elk nou vir agt elk jaar agter tralies.
Marshall September (32) en Nolan Marais (36) is sedert 2020 in aanhouding nadat hulle 'n minderjarige seun in die straat voor Ridgeview Primêre Skool beroof het.
Volgens inligting verskaf deur die polisie, was die seun op 13 Februarie 2020 om 12:00 op straat deur die twee mans wat met messe bewapen was, van sy selfoon en laaier beroof. Daar was ten tye van die rooftog groot kommer in die betrokke area oor soortgelyke misdaadvoorvalle.
Die minderjarige het twee polisielede, sersante Fillies en Mathupi na die voorval langs die pad gekry en 'n beskrywing van die mans gegee. Hierna het hulle hom in die patrollievoertuig gelaai en saam met hulle geneem om die verdagtes te probeer opspoor.
Die verdagtes is by 'n woning gevind waar hulle van klere verwissel het, maar hulle het met die polisie se aankoms ontvlug. Die minderjarige slagoffer se eiendom is egter wel teruggevind en aan hom oorhandig.
Hoewel die twee verdagtes die polisie telkemale na die voorval ontglip het, is hulle wel gearresteer. Marais is deur ao Arleen Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurtak in hegtenis geneem in verband met die rooftog van die minderjarige terwyl hy in arres op 'n ander oortreding was.
September was in die hof vir 'n verskyning, toe die sektor 1-bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisie, sers Ludumo Jas hom gaan arresteer het waar hy in die kleedkamers vir die polisie weggekruip het.
Stokes het die twee verdagtes se borg suksesvol geopponeer. Na wat verneem word was die twee mans deel van 'n groep betrokke in bendebedrywighede. Van die getuies in die saak, is na bewering deur die groep gedreig om nie in die saak teen September en Marais te getuig nie.
Die aanklaer in die saak was Corné Pretorius.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'