MOSSELBAAI NUUS - 'n Man wat op Jeugdag, 16 Junie verlede jaar 'n vrou by 'n woonkompleks in Diasstrand tydens 'n huisrooftog aangerand en vir dood agtergelaat het, is verlede Vrydag 13 jaar gevangenisstraf opgelê.
Die veroordeelde, Zonovan Matthee (22) het die slagoffer, 'n vrou, se woning in die Twee Kuilen-kompleks omstreeks 06:30 binnegegaan.
Sy het wakker geword toe hy haar kamer binnekom waarna hy haar aangerand en probeer verkrag het. Matthee het die vrou gewurg totdat sy haar bewussyn verloor het.
Toe die vrou later haar bewussyn herwin, was Matthee reeds weg met dit wat hy uit haar huis gebuit het.
Volgens inligting, kon die vrou ná die voorval vanweë haar beserings 'n ruk lank nie praat nie. Matthee is later op dieselfde dag in Aslapark in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Ten tye van die voorval was Matthee op parool vrygelaat.
Matthee is op Vrydag, 15 November drie jaar gevangenisstraf opgelê vir huisbraak en tien jaar vir poging tot verkragting.
Die Mossel Bay Advertiser het met die slagoffer kontak gemaak om kommentaar oor die vonnis te vra. Die vrou het te kenne gegee dat sy wel op 'n later stadium graag meer oor haar ervaring sal wil deel.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao Marizaan du Plessis van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'