MOSSELBAAI NUUS - 'n Man van Mosselbaai wat op Saterdag, 14 September langs Louis Fourieweg beroof is, het die misdadiger wat hom met 'n mes aangehou het na veiligheid gebring nadat die verdagte kort ná die voorval deur woedende lede van die gemeenskap aangerand is.
Die slagoffer, in sy 30's, het tussen 06:00 en 07:00 langs dié pad, wat bekend is vir gereelde voorvalle van gewapende rooftogte, gestap toe hy die gevoel kry dat hy agtervolg word.
Mosselbaai-polisiewoordvoerder, ao Pieter Koekemoer sê die slagoffer het 'n ritseling in die bosse gehoor en vinniger gestap.
"Twee mans, gewapen met messe het hom gegryp en een van die mans het 'n mes teen sy keel gehou." Koekemoer sê die verdagtes het die slagoffer se selfoon gegryp."
'n Motoris wat verby die toneel gery het en gesien het wat gebeur, het omgedraai om hulp te bied en die verdagtes het weggehardloop. Een van die verdagtes het egter in die hardloop geval en lede van die gemeenskap asook die slagoffer het om hom saamgedrom. Die ander verdagte het ontgevlug.
"Die slagoffer het sy selfoon in die verdagte se broeksak gesien en dit teruggevat. Ontstoke inwoners het die verdagte aangerand waarna die slagoffer hom na veiligheid geneem het. Die polisie het beheer oor die toneel oorgeneem.
"Die verdagte het op Maandag, 16 September in die Mosselbaai-landdroshof verskyn op 'n aanklag van roof.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'