MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie in samewerking met buurtwaglede het Maandagoggend blitsig opgetree nadat 'n vrou te voet op pad in die kloof tussen Curlewstraat en die JCC-woongebied van haar selfoon beroof is.
Volgens inligting, is die vrou omstreeks 08:30 op Maandag, 20 Mei deur twee onbekende mans beroof.
Sy het een van die verdagtes uitgeken en kon 'n goeie beskrywing van die man aan die polisie gee.
Die sektorbevelvoerder, sers Ludumo Dyasi het met behulp van lede van die buurtwag opgetree en kort voor 09:00 'n 24-jarige man in verband met die rooftog in hegtenis geneem.
Hy is deur die hoof van visuele polisiëring by die Da Gamaskop-polisiestasie, kol Chris Meiring bedank vir sy goeie werk.
Kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie het lede van die publiek gemaan om opnuut waaksaam te wees, veral diegene wat werknemers in die JCC-woongebied kom op- en aflaai.
"Ons het twee gevalle gehad waar werkgewers hulle mense kom aflaai en dan van hulle selfone beroof is.
Tref liewer 'n alternatiewe reëling met werknemers vir 'n veiliger op- en aflaaipunt, soos voor die polisiestasie in Mosselstraat.
Maak ook seker dat vensters en deure van voertuie gesluit is sodat jy nie 'n slagoffer van opportunistiese kriminele word wanneer jy in jou motor wag nie."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'