MOSSELBAAI NUUS - 'n Roudiens word vandag, Vrydag 4 Augustus vanuit die NG Kerk Hartenbos gehou vir 'n oud-inwoner van Mosselbaai, Ruan van Papendorp (33) en 'n 10-jarige seun, Jean-Pierre (JP) van der Westhuizen wat beide op Sondag, 30 Julie in 'n botsing op die N2 duskant Albertinia dood is.
Ruan het vir etlike jare in Mosselbaai gewoon maar het onlangs na Heidelberg verhuis waar hy vir SSK gewerk het.
Volgens polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap, kapt Malcolm Pojie het Ruan, sy vriendin Madele Oosthuizen, haar seun JP en hul drie honde, twee cocker spaniels, Molly en Max en 'n worshond, Ody, om 17:00 in die rigting van hul woning in Heidelberg gery toe Ruan se Toyota Hilux-bakkie met 'n grys Ford Fiesta gebots het.
Hulle het vroeër die dag by Ruan se ouers op Klipfontein, Vleesbaai gekuier.
Die botsing het plaasgevind by die tweede grondpad-afdraai na Stilbaai wat ook as die Swartklip-gebied bekend staan.
Nooddienspersoneel het JP en Ruan op die toneel dood verklaar en Madele is vir kopbeserings behandel. Paramedici het Molly na Dana Bay Vets geneem, Max is op die toneel dood aangetref en teen die ter perse gaan het familie bevestig dat Ody steeds vermis is.
Polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag maar volgens ooggetuies het die Toyota gerol nadat dit met die Ford gebots en Ruan beheer oor die bakkie verloor het. Die presiese oorsaak van die ongeluk word nog ondersoek.
Ruan sy vriendin Madele en haar seun, JP.
Toeriste
Toeriste van Nederland, twee vroue en twee kinders was in die Ford Fiesta. Nie een van die Ford se insittendes is egter beseer of na die hospitaal geneem nie en slegs die voorkant van die motor is erg beskadig.
"Ons het seer en dit gaan nie goed met ons nie. Hoe verwerk 'n mens dit?" het Ruan se suster, Tersia van Papendorp (37), wat op Hartenbos woon, aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"My pa vat dit baie erg. Ruan was sy alles. Madele het alles gesien gebeur. Sy het haar kind verloor."
Die familie soek nou na Ody. "My broer was baie lief vir sy honde."
Gerugte is ontvang dat Ody in die omgewing van die ongeluktoneel gesien is. Volgens Tersia het inwoners Ody probeer vang, maar hy het aanhou weghardloop".
Ody
"Ons was lank op die toneel en het teen die treinspoor geloop, maar Ody het bly wegkruip".
Susi Kok, veearts van Dana Bay Vets het bevestig dat Molly by die praktyk aansterk en 'n plaat en pen in haar een been gekry het. "Sy sal seker minstens nog vier weke hier bly."
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'