Verskeie inwoners wat in die area naby Rheebok Stene woon, het klagtes by die Eden Distrik Munisipaliteit gelê.
Dit sluit in 'ondraaglike' rook wat inwoners in en om hul wonings moet verduur en bekommernisse oor gesondheidsprobleme.
Die munisipaliteit het bevestig dat passiewe lugmonitering by die Plaasjapies Dag- en Nasorg vir die afgelope jaar gedoen is.
Rheebok Stene brand die stene in oonde wat bekendstaan as veldoonde met antrasiet steenkool. Die proses word die afgelope 30 jaar gevolg.
'Brande onbeheerbaar'
Die Algemene Bestuurder van Rheebok Stene, mnr Nicky van Wyk, sê hulle is bewus van inwoners se klagtes.
"Die probleem is dat ons nie die verbrandingsproses kan beheer nie. Sodra die oonde aan die brand gesteek is, kan ons niks verder daaraan doen nie."
Volgens mnr Van Wyk rook die oond vir tussen drie na vyf dae, waarna die rook minder sigbaar raak.
"Ons probeer die oonde aan die brand steek wanneer die wind nie in die rigting van ons nabye bure waai nie. Ongelukkig is die wind onvoorspelbaar en sodra die wind draai, kan ons niks aan die rook doen nie."
Sowat ses oonde word per maand by die stene aan die brand gesteek.
"Ons koop die beste steenkool aan wat vir ons bekostigbaar is en ons doen alles in ons vermoë om onder die nuwe emissiestandaarde te bly.
Ons doen ook ons eie passiewe lugmonitering om seker te maak ons is binne die limiete soos uiteengesit in ons emissielisensie."
Volgens die woordvoerder van die Eden Distrik Munisipaliteit, Marillia Veldkornet, is steenoonde basies oop brande. Sy sê dit is veral tydens wintermaande, wanneer daar min lugbeweging is, wat rook in die rigting van inwoners gewaai word.
"Eden se lugkwaliteitseenheid is deurgaans in kontak met die steenoonde en die klaers. Rheebok Stene is ingelig oor die probleem en die reëling is dat oonde nie aan die brand gesteek word wanneer die heersende windrigtings na die klaers waai nie."
Planne vir toekoms
'n Voorlopige emissielisensie is onlangs aan Rheebok Stene uitgereik om 'vertical shaft brick kilns' op te rig. Volgens mev Veldkornet is dit 'n meer omgewingsvriendelike manier van steenproduksie.
Die vrystellings van die oonde gaan deur behandeling voordat dit vrygelaat word en ook dan deur slegs een skoorsteen. Dit verseker dat skadelike elemente dus uit die rook gehaal word voor dit vrygestel word.
Mnr Van Wyk sê met die nuwe tipe oonde sal Rheebok Stene se steenkoolverbruik ook met die helfte afneem. "Dus behoort die emissies ook met die helfte af te neem."
Volgens Van Wyk sal Rheebok Stene poog om die nuwe oonde teen Junie 2015 in werking te hê.
Ongeveer 100 personeel van Rheebok Stene woon tans langs die steenperseel. Volgens mnr Van Wyk ondergaan al sy personeel elke jaar 'n mediese ondersoek wat daarop dui dat 'tot dusver daar nog geen newe-effekte op hul gesondheid as gevolg van die emissies is nie'.
*Lesers wat kommentaar wil lewer, kan 'n e-pos stuur na louise@groupeditors.co.za.

Rook hang in die lug na afloop van die steenbrande.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'