Die SA Polisie gee deurentyd wenke om die mense te bemagtig om hulself en hul eiendom te beveilig. Desondanks gebeur gruweldade steeds.
P Eye Mosselbaai is 'n gemeenskapsinisiatief, wat uit die Mosselbaai Polisie Sektor 2 omgewing tot stand gekom het. P Eye Mosselbaai doen 'n beroep op Mosselbaaiers om elke Vrydag in Maart rooi klere te dra om hul misnoeë met misdaad sigbaar te toon.
Die inisiatief word deur die SA Polisie en die munisipaliteit ondersteun en die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, doen 'n beroep op die gemeenskap om saam te staan en werklik 'n verskil te maak.
Brigadier Gerhard Jantjies, Da Gamaskop SAPD Gebiedsbevelvoerder voeg by, "Daar is nie plek vir misdaad in ons gemeenskap nie, en misdadigers moet weet hulle sal nie hier geduld word nie. Die gemeenskap word versoek om die SA Polisie, wat onverpoos werk om misdaad te bestry, se oë en ore te wees."
Optog
Daar word boonop voorlopig beplan om op 26 Maart 'n massa optog te hou om Mosselbaaiers die geleentheid te gee om hul ontevredenheid met die misdaadvlakke op die dorp te kenne te gee. P Eye Mosselbaai onderhandel tans met die verskillende owerhede oor die roete, maar nooi Mosselbaaiers om nou reeds voorsiening te maak om op 26 Maart by die optog aan te sluit. Skole word ook aangemoedig om hul leerders by die optog te betrek en word versoek om vandag, Vrydag, 15 Maart reeds 'n aanduiding te gee of hulle beskikbaar sal wees of nie.
Misdadigers moet deeglik kennis neem dat misdaad nie op Mosselbaai geduld sal word nie en dat die gemeenskap alles in hul vermoë sal doen om dit te bekamp.
Klippe-veldtog
P Eye Mosselbaai nooi ook mense wat om logistieke redes nie aan die optog kan deelneem nie, maar hul sentiment deur middel van 'n geverfde klip wil oordra, om die klippe by die Hartenbos Munisipale Gebou, vir aandag Alma Kritzinger, af te gee. Die versoek is dat die boodskap op die klippe veral ook ag moet slaan op die slagoffers van misdaad.
Meer detail oor die roete, tyd en formaat van die optog sal in volgende week se Mossel Bay Advertiser en Mossel Bay Home Ads News bekend gemaak word.
Mense wat voornemens is om aan die optog deel te neem, word genooi om nou reeds 'n boodskap op 'n klip te skryf wat na afloop van die optog gebruik sal word om 'n tasbare boodskap teen misdaad te verwoord.

Rauch Gertenbach Prokureurs se personeel het met oorgawe gehoor gegee aan die wekroep om rooi te dra op elke Vrydag in Maart. Hulle daag die gemeenskap uit om hul voorbeeld te volg. Foto: Tersia Marais

Leerders van Hartenbos Laerskool het gehoor gegee aan die "Rooi Vrydag" veldtog en het almal rooi aangehad die afgelope Vrydag. Foto: Tersia Marais
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS