GROOT BRAKRIVIER NUUS - Andrea Auerbach, 'n inspekteur van die Tuinroete Dierebeskermingsvereniging, was Donderdag, 20 Oktober, in die Wolwedans area, by Groot-Brakrivier, op pad na 'n ander klagte, toe 'n groep tieners haar jillend voorkeer met 'n bloedrooi verkleurmannetjie.
Sy vertel: "Hulle het dit baie amusant gevind en ek het eers gedog die verkleurmannetjie het so verkleur, maar toe ek van naderby kyk, het ek gesien die lyfie is bloedrooi geverf.
"Die seuns het ontken dat hulle haar geverf het, maar daar was rooi ink aan hul hande en ek het besef dat hulle 'n pen of khoki oopgebreek het en die verkleurmannetjie daarmee geverf het.
"Ek was baie ontsteld en het vir hulle verduidelik dat dit wat hulle gedoen het onwettig en baie wreed is. Verkleurmannetjies haal deur hul vel asem en kan versmoor weens die verf.
"Die verkleurmannetjie was reeds slaperig en het net aan my geklou tot by die die veearts se spreekkamer. Ons het haar dadelik met warm water begin afspons om die verf af te kry. Sy het stadigaan weer begin beweeg. Ons het haar weer gewas tot al die verf af was.
"Die verkleurmannetjie is by 'n plek van veiligheid geplaas waar sy onder toesig in die natuur kan herstel".
Inspekteur Auerbach het 'n beroep gedoen op gemeenskapsleiers en skole om kinders en jongmense op te voed om alle diere en insekte te respekteer en te versorg.
'Ons bring jou die nuutste Groot Brakrivier, Tuinroete nuus'