MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het opnuut hulle kommer uitgespreek oor die voorkoms van rooftogte in die D'Almeida-, Uitbreiding 13- en 23-gebiede.
Die stasiebevelvoerder kol Mark Hartenberg, het opnuut gewaarsku dat voetgangers nie alleen op veral Bill Jeffrey-, Alhof-rylaan en ook die bospaadjies tussen klowe moet stap nie. In die algemeen word voetgangers wat alleen deur hierdie gebiede stap, deur boosdoeners gedreig en van waardevolle items soos selfone, kontant, tabletrekenaars en selfs klerasie beroof.
"Dit is ontstellend dat bo en behalwe die gebruik van wapens, veral vuurwapens, bemerk ons dat die aggressie en gevoelloosheid van misdadigers wat hierdie dade pleeg, toeneem. Dit is veral ontstellend dat minderjariges ook nie ontsien word tydens hierdie aanvalle nie. Dit veroorsaak baie trauma wat lank na die voorval problematies bly," sê kapt Wollie Fourie van die Da Gamaskop-polisie.
Kaptein Fourie sê dat talle mense daagliks geen ander keuse het as om te stap waar hulle moet wees nie, veral skoolgaande kinders. "Dit is belangrik om nie weerstand te bied nie. Dit kan jou lewe in gevaar stel."
Die polisie het goeie verhoudings met die gemeenskape en buurtwagte wat patrollies verrig om insidente te help voorkom, maar daar is steeds kriminele elemente wat op wetsgehoorsame mense toeslaan.
"Wees waaksaam en rapporteer insidente. Onthou om 'n goeie beskrywing van verdagtes te probeer gee ten einde die regsproses te ondersteun."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'