MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay Advertiser (MBA) het onlangs berig oor beeste wat rustig in 'n inwoner van D'Almeida se tuin plante vreet, terwyl 'n kalf 'n ent verder aan sy ma drink.
MBA het by die Mosselbaai-munisipaliteit gaan kers opsteek wat die wetlike gevolge en regulasies is ná daar ook op rondloper varke in Louis Fourie-weg afgekom is.
Loslopende diere hou veral groot gevaar vir aankomende verkeer in.
Die woordvoerder van die munisipaliteit, Cornelle Carstens, het die volgende terugvoer gegee.
Munisipale wetstoepassers en verkeersbeamptes se algemene pligte kan op 'n daaglikse basis 'n verskeidenheid van optredes tot gevolg hê.
Dié beamptes is verantwoordelik daarvoor dat inwoners van die groter Mosselbaai binne die perke van die munisipale bywette bly, en indien nie, dat die nodige wetstoepassing plaasvind.
Dit is nie 'n ongereelde verskynsel dat dié beamptes hulle hande vol het met rondloperdiere, wat in die dorpsgebied veral op of naby deurgangsroetes rondloop nie.
Munisipale Verordening
Volgens die toepaslike munisipale verordening met betrekking tot strate, is die volgende van toepassing wat rondloperdiere betref:
Geen eienaar of persoon (a) wat beheer of toesig het oor 'n wilde of kwaai dier, 'n trekdier of horingvee, mag toelaat dat dit te enige tyd in 'n straat sonder voldoende beheer en toesig is, of los rondloop nie, of mag sodanige dier op so 'n wyse aanhou dat dit gevaarlik of 'n ergernis vir die verkeer of publiek kan wees nie; of (b) mag toelaat, veroorsaak of duld dat enige dier in of op enige straat rondloop of wei nie.
Skut van rondloperdiere
Wat die skut van rondloperdiere betref, word bepaal (1) dat daar op enige dier wat sonder toesig op 'n openbare pad of plek rondloop, beslag gelê mag word om geskut te word deur:
- 'n lid van die SAPD
- 'n lid van die provinsiale padverkeer-inspektoraat
- 'n gemagtigde munisipale beampte of lid van die munisipaliteit se beskermingsdiens of 'n beampte van 'n dierewelsynsorganisasie, soos die Dierebeskeringsvereniging (DBV).
Collab Citizen slimfoontoepassing
Die normale prosedure wat deur munisipale wetstoepassers en verkeersbeamptes gevolg word, is dat indien rondloperdiere soos beeste in 'n openbare area of pad gevind word en nie van 'n veewagter vergesel word nie, die diere uit die pad gejaag of geskut word, indien 'n kontrakteur beskikbaar is om die nodige te doen.
Lede van die publiek kan rondloperdiere aanmeld by 044 606 5000 of deur gebruik te maak van die nuwe munisipale Collab Citizen-slimfoontoepassing.
'n Mosselbaai-inwoner jaag beeste aan wat in die strate ronddwaal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’