MOSSELBAAI NUUS - Met die voorgenome verandering van Suid-Afrika se reeds streng wetgewing aangaande rook in publieke areas, is daar opnuut 'n vurige debat aan die gang. 'n Bejaarde nie-rokende lid van die gemeenskap, het die Mossel Bay Advertiser se kantoor op Maandag, 7 Mei besoek en kapsie daarteen gemaak dat hy vroeër die oggend bedien is by die Mosselbaai-toetsstasiekantoor waartydens die bestuurder glo ongeërg 'n sigaret opgesteek en in die teenwoordigheid van sy personeel en die kliënt in 'n kleinerige vertrek, gerook het.
Uitvoerende bestuurder in die kantoor van die munispale bestuurder, Colin Puren het by navraag aan die Advertiser bevestig dat dit onwettig is om binne die kantoor of gebou te rook indien dit nie 'n toegeskrewe rookarea is wat aan die minimum wetlike vereistes voldoen nie.
Meneer Puren het in sy kommentaar gesê dat die munisipaliteit die huurder van die voorval en wetlike vereistes in kennis sal stel.
Die perseel waar die toetsstasie bedryf word, word tans van die Mosselbaai-munisipaliteit gehuur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'