Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Gereelde klagtes oor roekelose bestuur in strate rondom die D'Almeida-sportgronde het verlede naweek byna rampspoedige afmetings aangeneem toe 'n voertuig deur 'n heining en in 'n informele woonstruktuur ingeploeg het.
Die voorval het Saterdagnag, 18 Junie plaasgevind toe 'n onbekende man in Rosebudstraat beheer oor sy voertuig verloor het.
Die man, volgens ooggetuies van die Gaatjie-buurtwag, het glo teen 'n hoë spoed in Rosebudstraat in die rigting van die D'Almeida-sportgronde gejaag waarna hy skerp gedraai het om vermoedelik 'n botsing met die stadion se muur te vermy.
VIDEO - Voetuig ploeg woning plat in D’Almeida (Video: Cornelle Carstens).
Hierna het die voertuig in 'n erf op die hoek van Stadion- en Rosebudstrate te lande gekom.
In die proses is 'n informele struktuur, waarin 'n jong man en vrou, asook 'n bejaarde vrou ten tye van die voorval was, vernietig. Die vrou, in haar sewentigs, is gedurende die voorval beseer.
Johann Koen, 'n lid van die Gaatjie-buurtwag, berig dat lede van die buurtwag wat op patrollie in die omgewing was, die voorval sien gebeur en nooddienste ontbied het.
"Ons het die voertuig se sleutels geneem sodat die man nie kon vlug nie en het hom aan die polisie oorhandig," het Koen Woensdag ter plaatse aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Koen berig ook dat daar gereeld jaagtogte en wieltollery in die strate rondom die stadion plaasvind.
"Die gemeenskap kla gereeld hieroor en ons het ons hande vol om die skuldiges in toom te hou. Gelukkig kry ons baie goeie samewerking van die polisie en gemeenskapsveiligheid."
Polisiekommunikasiebeampte, ao Kappie Kapp het bevestig dat die bestuurder van die voertuig in hegtenis geneem is in verband met die voorval en dat hy hangende die uitslag van 'n voorlopige ondersoek, in 'n later stadium in die Mosselbaai-landdroshof sal verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'