MOSSELBAAI NUUS - Vir baie Suid-Afrikaners plaaslik en in die buiteland, is die naam Karen Zoid sinoniem met ikonies. Groot was 'n plaaslike skool se verbasing toe dié bekende rocker hulle verras met 'n boodskap op hulle facebookblad.
"ZJ Hulpsentrum in Hartenbos!!!!! Hierdie personeel en kinders het so baie moeite gedoen. Julle is amazing. Julle het my hart gesteel van die eerste oomblik wat ek julle video gesien het. Ons gaan julle kontak en iets super spesiaal vir julle doen, en ek gaan een van die dae by julle kom kuier."
Só skryf die uitgesproke Zoid nadat die ZJ Hulpsentrum deelgeneem het aan 'n kompetisie om een van haar nuwe liedjies, Swartskaap, in 'n musiekvideo te vertolk.
Zoid het die kompetisie op haar facebookblad bekendgestel as "Word my band se persoonlike VIP vir 'n jaar". Op haar blad beskryf sy die snit as "'n groot rock song met distorted kitare en 'n monster backbeat waarmee jy die naweek in kan baljaar soos 'n wafferse ruk en rol rabbedoe".
Sy nooi dan haar aanhangers en volgelinge uit om 'n video te neem waar hulle head bang op Swartskaap en om dit op sosiale media laai. "Ons personeel is groot Karen Zoid-fans en ons kinders kan mos rock 'n roll, beweeg, skud en alles doen ten spyte van hul beperkinge," verduidelik Zettie Jonker. Nadat hulle van die kompetisie te hore gekom het, besluit juffrou Sam Botha en Chané Belstead toe, dat in plaas van liggaamsoefeninge doen, daar 'n bietjie gerock gaan word.
In 'n japtrap is daar skape gemaak en geverf. "Die skool se musiekboks is pap, maar ons het die bus nader getrek en so uit die kattebak het die rock-musiek geblêr."
Die video is met die ouers se toestemming aanlyn gelaai en het blitsvinning hier by die 32 000 kykslae gehad.
Op Zoid se facebookblad gee sy te kenne dat om 'n wenner te kies, kopkrap gekos het, maar uiteindelik was die jonges van die ZJ Hulpsentrum se koppe deur met vlieënde vaandels. "Ons glo, wenners sal ons wees," het Jonker gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'