MOSSELBAAI NUUS - Op Saterdag, 1 Junie, hou die Ruiterbos-gemeenskap se mense fees, 'n groot familiefees. Alle aanduidings sover dui daarop dat hierdie geleentheid voorwaar propvol vermaak en opwinding gaan wees. Boeresport, wat insluit toutrek, sakresies, asook jukskei onder leiding van 'n voormalige SA speler sal aangebied word. Kyk ook uit vir ander outydse gunstelinge en daar is baie pret vir kinders met gesigverf, poppekas en vele meer op die spyskaart.
Die fees begin die oggend met 'n optog van veteraanvoertuie en 'n pretdraf gelei deur Hartenbos Drawwers op die ou Ruiterboschpad.
Die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal behartig die amptelike opening van die verrigtinge.
"Ons het heelwat uitstallers, met nog plek beskikbaar, asook kunstenaars wat gedurende dag gaan optree soos Wouter van de Venter, Sam en Calla. Die reëlings verloop vlot sover en ons wil graag solank vir Mosselbaai Begrafnisdienste asook Môreson Grondverskuiwing in Robertson bedank vir hul borgskappe ontvang," berig die organiseerders. Alle belangstellende besighede word genooi om deel te wees van hierdie familiefees - "die eerste van 'n jarelange tradisie". Enige belangstellendes word genooi om Louise te kontak vir meer inligting (082 557 6619).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'