MOSSELBAAI NUUS - Dit wil voorkom of robbe se gedrag teenoor mense toenemend aggressief raak. Dit kom na 'n paar aanvalle die afgelope twee maande in die Wes- en Suid-Kaap.
Mosselbaaier, Greg Fenn, wat al vir 30 jaar in die see swem, branderplankry en snorkel is verlede naweek deur 'n rob aangeval en gebyt toe hy en sy 10-jarige seun by Die Punt gesnorkel het.
Sy 14-jarige seun, Joel is boonop twee maande gelede ook by Die Punt deur 'n jong rob aangeval en gebyt.
Greg vertel hulle het gesit en kyk hoe sy seun in die water branderplankry toe hy deur iets aangeval word. "'n Mens se eerste gedagte is 'n haai, maar dit was 'n jong rob wat hom 'n paar keer deur sy duikpak gebyt het. Verlede naweek het ons by Fisherman's Rock, by Die Punt gesnorkel en was oppad uit die water toe 'n groter rob my aangeval en 'n paar keer aan die been gebyt het."
Greg benadruk dat dit baie vreemde gedrag van die robbe is. Daar was nooit enige uitlokking van die diere nie. "Ons en die robbe het nog altyd in harmonie saam geswem en hoewel hulle nuuskierig is, het ons wedersydse respek vir mekaar in die see gehad."
Aggressiewe gedrag
Volgens omgewingsbewaarder, Aiden Beck moet daar nog heelwat navorsing gedoen word oor die redes vir die robbe se skielike aggressiewe gedrag. Volgens studies wat in Florida, Amerika gedoen is, blyk dit dat 'n verhoogde hoeveelheid stikstof in die water 'n oormatige hoeveelheid alge veroorsaak wat as "algae bloom" bekend staan. Dit kan lei tot neurologiese wanbalanse in die seelewe.
Beck glo dat die oorvloei van rioolafval na die see weens die groter hoeveelheid mense tydens die feesseisoen en verswakte infrastruktuur weens aanhoudende kragonderbrekings tot gevolg het dat daar meer van die bakterie E.coli in die water is. "Mense dink dat E.coli vinnig in die seewater doodgaan, maar dit blyk nie die geval te wees nie. Alternatiewe planne sal gemaak moet word om die toename in menslike afval weens die groot toename van mense tot die area, te verwerk."
Dr Greg Hofmeyr van Bayworld en 'n kenner oor die gedrag van robbe, het bevestig dat daar nog nie genoeg navorsing gedoen is om die redes vir die robaanvalle op mense te verklaar nie.
Hy sê dit is te vroeg om te bepaal of daar 'n toename is in aggressiewe gedrag by robbe.
"Daar is geen rekord van aanvalle oor die jare nie. Met die publisiteit rondom die onlangse aanvalle, sal daar waarskynlik meer mense wees wat na vore kom wat in die verlede aangeval is." Hofmeyr vra dat hulle die Baywater Stranding Hotline skakel by 071 724 2122 of dit rapporteer by S.M.A.R.T.
Hy vervolg: "Daar kon ook nog nie bewys word dat daar 'n verband is tussen E.coli wat aan rioolafvalwater gekoppel word en die "domoic acid" vergiftiging weens "algae bloom" wat by Kaliforniese seeleeus gevind is nie.
Die laaste navorsing is einde 2021 afgehandel. Dit is dus belangrik dat nuwe navorsing gedoen word. Die publiek se hulp is dus belangrik om robaanvalle te rapporteer."
VIDEO - Greg Fenn from Mossel Bay tells about the seal attack on him and his son.
VIDEO - Aiden Beck, a conservationist from Mossel Bay explains his views on the changed behaviour of seals.
Greg Fenn en sy seun, Joel wat beide die afgelope twee maande deur twee verskillende robbe by Die Punt aangeval en gebyt is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'