MOSSELBAAI NUUS - Kosvoorrade en ander noodsaaklikhede vir troeteldiere is Vrydag, 3 Maart aan die Mosselbaai Dierbeskermingsvereniging (DBV) oorhandig deur die Dream Girl SA-span.
Die wenner van die Dream Girl South Africa 2022-kompetisie, Carla Greyling het op 23 Desember verlede jaar 'n skriftelike oorhandiging van troeteldier-noodsaaklikhede aan die DBV van Mosselbaai by die burgemeesterskantoor gedoen.
Die Mosselbaai DBV sal verantwoordelik wees vir die regverdige verdeling van die skenking tussen die DBV en ander diere-organisasies in die distrik. Volgens Elize van Vuuren, die Suid-Kaapse agent van Dream Girl SA, is die kompetisie daarop gemik om entrepreneurskap te bevorder en om liefdadigheidswerk te doen.
"Daar word jaarliks 'n area geïdentifiseer waarheen die landswye insamelings geallokeer word. Alle insamelings wat deur die 2023-finaliste ingesamel word, gaan aan instansies (mense en diere) in Mosselbaai toegeken word."
Van Vuuren vra die gemeenskap van Mosselbaai om hande te vat en die finaliste te ondersteun in hulle projekte om fondse in te samel vir liefdadigheidsorganisasies in die streek.
Van die kosvoorraad en troeteldierbenodigdhede wat deur die Dream Girl 2022 wenner, Carla Greyling ingesamel is en aan die Mosselbaai DBV geskenk is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'