Kobus Crous, sakeman en wildplaaseienaar van Mosselbaai, het sy drie oorblywende renosters - 'n bul en twee koeie - vir die tweede keer laat onthoring nadat hy twee renosterbulle aan stropers afgestaan het.
Die drie renosters wat die aanslag oorleef het is sowat 18 maande gelede vir die eerste keer onthoring.
"Ek wou hulle aanvanklik nie laat onthoring nie," sê Crous, "Dit het net nie reg gevoel om 'n renoster van die horings te ontneem nie."
Nadat twee renosters onderskeidelik binne die bestek van 'n jaar minder as 3km van die plaashuis af geskiet en die horings brutaal verwyder is sodat die diere waarskynlik in pyn doodgebloei het, het Crous besluit hy moet die dras-tiese stap neem om die drie oorblywende renosters te red.
"Ter wille van die diere se oorlewing is dit weer tyd om die horings, wat sedertdien teruggegroei het, te verwyder."
Dokter Hendrik du Toit, veearts van Gouritsmond, het die proses gelei.
Die koei, MC, wat telkens teenwoordig was toe die twee bulle kort na mekaar drie jaar gelede gestroop is, is eerste verdoof, omdat sy tydens die vorige onthoring angsbevange die loop geneem het. Toe het Pop en Seuntjie gevolg.
Omdat die renosters relatief mak is, kon Crous met die bakkie tot sowat 20m van hulle af kom om Du Toit in staat te stel om die verdo-wingspyl akkuraat af te vuur.
Sodra die renoster onder verdowing gaan lê, word 'n lap oor die oë gegooi en proppe van lap in die ore gedruk om die dier aan so min as moontlik stres bloot te stel. "Harde geluide of pyn kan die renoster uit die beswyming laat wakker word," sê Du Toit.
Daar word ook 'n teenverdowingsmiddel ingespuit om diep verdowing te vermy.
Die horing word met 'n kleurpen gemerk waar dit afgesaag moet word sonder dat dit in die lewe in sny, voordat die veearts die horing met 'n battery-aangedrewe saag begin afsaag. Terselfdertyd word 'n gaatjie in die oorblywende stukkie horing geboor sodat 'n mikroskyfie, wat deur CapeNature verskaf word, met kitsdrooggom in die horing geplant kan word.
Sodra die horing afgesaag is, word die oorblywende horingstompie met olie behandel om te voorkom dat dit uitdroog en kraak, en met 'n ontsmettingsmiddel bespuit. Antibiotika teen moontlike infeksie word ingespuit, en multivitamiene en minerale vir ekstra stukrag word toegedien. Die koeie word getoets vir dragtigheid.
Dan soek die span die veiligheid van 'n bakkie op voordat die veearts 'n wakkermaakmiddel toedien.
Feitlik onmiddellik staan die renoster op - so vas op sy voete asof hy nooit verdoof was nie - en gaan soek die teenwoordigheid van sy troppie op.
"Hopelik red dit hulle lewens vir nog 'n jaar of wat," sê Crous.
Altesaam 558 renosters is reeds sedert die begin van die jaar in Suid-Afrika deur stropers vankant gemaak.
Verlede jaar is altesaam 1004 renosters gedood vir hul horings - 'n geweldige toename vanaf slegs 13 renosters in 2007.

Kobus Crous, sakeman en wildplaaseienaar van Mosselbaai, het sy drie oorblywende renosters, 'n bul en twee koeie, vir die tweede keer laat onthoring om hulle van stropers te red. Foto: Dave van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'