Sedert 2011 is daar reeds vier renosters in die Mosselbaai omgewing vir hulle horings doodgemaak. In die mees onlangse voorval is ‘n renosterbul van die privaat-wildreservaat, Nyaru, vermoedelik met ‘n verdowingspyl geskiet, slegs 1km van die lodge af, waarna sy horing netjies afgesaag is. Nog geen arrestasies is vir enige van die vier voorvalle gemaak nie.
Die Nyaru-insident het renostereienaars in die omgewing egter opnuut laat regop sit.
“Deur die renosters te onthoring, beperk ek hopelik die risiko van nóg ‘n stroping. Dit vat die insentief van die misdadigers weg,” het die eienaar wat sy renosters onthoring het, gesê.
Omdat ‘n gedeelte van die renosterhoring steeds aan die renoster se skelet bly is die onthoringing van renosters nie ‘n waarborg teen stropery nie, maar kenners meen dis beter as om niks te doen nie.
Vyf renosters is verlede week op die eienaar se plaas onthoring tydens ‘n noukeurige en intensiewe proses wat deur ‘n veearts van Oudtshoorn, dr Willem Burger, gemonitor is.
Volgens Barend le Roux van Cape Nature moet ‘n renostereienaar eers ‘n permit kry voordat die renosters onthoring kan word. Die horings bly die eiendom van die eienaar en word in ‘n plek van veilige bewaring, gewoonlik 'n bankkluis, gestoor. Om selfs net die horings te vervoer, moet ‘n eienaar ‘n vervoerpermit kry.
Lig moratorium op renosterhoring-handel
Verskeie kenners is dit eens dat die lig van die moratorium op renosterhoring-handel die regte stap sal wees in die stryd teen renosterstroping. Suid-Afrika se grootste renostereienaar en -teler, John Hume, besit meer as 800 renosters en sê statistiek wys dat renosterstropery toegeneem het sedert die CITES-verbod op renosterhoring-handel geplaas het.
“Dís ons probleem. Daar is ‘n groot buitelandse mark vir renosterhoring. Die boodskap aan hierdie kopers na die moratorium geplaas is, was dat ons géén meer horing aan hulle sal verskaf nie. In ruil het die lande (waar renosterhoring as seksprikkelmiddel of medisyne gebruik word), stropers gewerf om renosterhoring te bekom, want kry sal hulle kry!
"Dit was toé dat stropingsgetalle die hoogte begin inskiet het.” Hume is ‘n voorstander daarvan dat die verbod gelig word sodat renostereienaars die renosterhorings wettig kan verhandel om aan die mark se behoefte te voldoen en sodoende Suid-Afrika se renosters van stroping te bewaar.
Volgens Pelham Jones van die Private Rhino Owners Association, het meer as 100 000 renosters reeds gesterf sedert die CITES-verbod.
“Die verbod werk nie en het slegs daartoe gelei dat renosters onwettig doodgemaak word. Boonop is ‘n massiewe mark vir onwettige handel geskep. Ons kan die mark laat val deur opvoeding, beter wetstoepassing en beheerde wettige handel. Die inkomste kan teruggeploeg word in renosterbewaring.”
Mini-oorlog
‘n Mini-oorlog woed egter tussen mense wat pro-wettige renosterhoringhandel is, en die wat, ten spyte van die groot getal renosters wat jaarliks afgemaai word, steeds meen die verbod behoue bly. Daar is ook sprake in renosterkringe dat alle organisasies wat geld insamel om renosters te bewaar, tans nie die geld vir die bewaring gebruik nie, maar vir selfverryking aanwend.
Kenners raai mense aan om nie geld vir enige renosterbewaringsorganisasie te skenk nie, maar eerder seker te maak dat die organisasie geldig is en dat daar bewyse is dat geld wat ingesamel word, wel vir die bewaring van die spesie gaan.
Die ANC-LP, Johnny de Lange het verlede jaar gesê die 36-jarige Cites verbod op renosterhorings het nie stropers gestop nie. Die regering sal volgens hom poog om goedkeuring vir die opheffing van die verbod op die 17 Cites konferensie te kry wat in 2016 in Suid-Afrika gehou gaan word.
G'n botsing van belange
"As iemand se passie ook 'n finansiële voordeel kan meebring, sou dit nie des te meer suksesvol en lonend wees nie?" So reageer Hume op die argument dat renostereienaars, behalwe vir bewaring, ook opbrengs najaag.
"Enige natuurbewaarder weet dat bewaring vir homself moet betaal. As al die bewaarders miljoenêrs was, sou die wêreld 'n ander plek wees en 'n baie gelukkiger plek vir renosters.
"Ek hoop om goeie inkomste uit my horingverkope te maak. Dit sal my in staat stel om my renosters te beskerm. Dit sal ook baie meer mense aanmoedig om met renosters te teel en hulle te beskerm. My visie van Afrika, 'n kontinent met 100 000'e wilde renosters, met hulle horings op en waar hulle in 'n veilige omgewing kan leef, sal waar word."
Sien al die foto's hier.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'