Die geleentheid, wat in die D'Almeida-stadion sou plaasvind op Saterdag, 26 April, moes noodgedwonge na die Binnenshuise-sportsentrum verskuif word as gevolg van die gure weer. En vir diégene wat dink dat dit moontlik die spanne en toeskouers se gees sou demp, dink weer!
Slegs drie van die 25 ingeskrewe spanne het uiteindelik nie aan die geleentheid kon deelneem nie, maar die wat wel daar was, het in geesdrif en entoesiasme inderdaad vir die drie spanne se afwesigheid opgemaak.
Volgens Merle Singh, koördineerder van die geleentheid, was die atmosfeer amper elektries.
"Daar was soveel positiewe energie in die saal, dat dit amper tasbaar was. Ons hoofdoel was om bewusmaking in die gemeenskap te genereer en glo my, ons het selfs meer as dit tot stand gebring die naweek."
Singh meen dat die organiseerders buite mate tevrede is met die opkoms en ook die inkomste wat gegenereer is. Sy het bevestig dat hulle uit verkope alleen tydens die geleentheid, knap oor die R10 000 ingesamel het.
"Vir 'n eerste keer, is ons meer as tevrede."
Singh sê dat die volgende Relay, geskeduleer vir 7 Maart 2015, reeds in die beplanning is, "Verskeie spanne het reeds aangedui dat hulle sommer nou al wil inskryf."
Volgens Singh, was die oomblik so groot dat sy straks vergeet het om tydens die geleentheid die bedankings te doen.
"Ons was almal so 'excited', dat ons skoon vergeet het om al die wonderlike mense wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het te bedank."
Die organiseerders bedank graag: die Mosselbaai Munisipaliteit, PetroSA, Claire du Plessis, Howard Duthie, South Cape Caterers, Anne Pheiffer, Babie Lewitton, Mosselbaai Begrafnis-dienste, Ruben Briesies en Brandt taxi's.
"Daar is nog mense, wat verkies om anoniem te bly, vir wie ons ook graag wil bedank – hulle weet wie hulle is," het Singh afgesluit.
Die jaarlikse Cansa Relay for Life wat in die ATKV-amfiteater in Hartenbos gehou word, vind vanjaar vanaf 14-16 November plaas, wat geleenthede gemik op verskeie gehore insluit.
FOTOGALERY
Die Proteaspan van die Volkskerk gereed vir die groot stap.
Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'