MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het sy rimpeling op die nasionale nuusfront gemaak deur op 7 Januarie nagenoeg 6 300 mense op een dag kos te gee.
Dít is bewerkstellig deur die Mossel Bay Community Soup Drive, in samewerking met 'n gemeenskapsgebaseerde organisasie uit Kaapstad, Upcountry Feeding Hands.
Die organisasie is in 2019 gestig met die doelwit om sosiale regenerasie te weeg te bring, maar verskaf ook basiese lewensmiddele soos kos, klerasie en toiletware aan gemeenskappe in nood.
Uitreikwerk het aanvanklik onder plaas-, asook vissersgemeenskappe plaasgevind, maar later gedurende die grendeltyd vanweë Covid-19 is hulle dienste uitgebrei. Tans voed die organisasie 4 000 per dag.
"Ons het in Oktober 2021 van Upcountry Feeding Hands verneem en met hulle kontak gemaak. Tydens ons gesprekke kon ek hulle vertel wat ons op Mosselbaai doen," verduidelik William Sam, segsman van die Mossel Bay Community Soup Drive.
Nadat verskeie raakpunte tussen die twee organisasies ontdek is, is 'n datum deurgegee waartydens 'n uitreik op Mosselbaai gedoen sou word.
"Hulle het my 'n datum gegee en gesê dat hulle die naweek van 7 tot 9 Januarie 2022 Mosselbaai toe kan kom en dat hulle kos sal bedien aan ons gemeenskap vir 6 000 mense," vertel Sam.
Die Mossel Bay Community Soup Drive het die logistieke beplanning in plek gekry. Upcountry Feeding Hands het al die bestanddele en kookgeriewe voorsien, asook die voorbereiding behartig.
"Op Saterdag, 8 Januarie om 12:00 het ons begin bedien en meer as 6 300 mense het uiteindelik 'n maaltyd ontvang. Daar was mense van regoor die groter Mosselbaai teenwoordig. Mense het so ver as Sonskynvallei, Tarka, Uitbreiding 8, Asla Park en oral opgedaag met groot bakke en daar was genoeg kos vir almal."
Sam berig dat 1 000 pakkies met lekkernye aan die kinders uitgedeel is.
"Ons het nog kos oorgehad die Saterdagmiddag, wat toe deur munisipale raadslede in hulle wyke uitgedeel is met die hulp van vrywilligers. Ons is trots om die rekordboeke, sover bekend, te kon herskryf deur die meeste mense op een dag in Mosselbaai te voed," berig Sam.
Igsaan van der Schyff van Upcountry Feeding Hands vertel dat dit eintlik 'n gelukskoot was dat Mosselbaai wel in hulle jaarlikse kalender kon inpas.
"Ons kon werklik die nood sien in die manier hoe geduldig mense gewag het om bedien te word. Ons beplan om weer in 2022 Mosselbaai toe te kom, maar aan die hand van die behoefte, sal ons graag dae wou gebruik om die gemeenskap te voed."
Van die 6 300 begunstigdes het geduldig gewag op hulle maaltye.
Van der Schyff verduidelik dat die organisasie op 'n volhoubare wyse weeklikse skenkings ontvang wat bestanddele betref. Brandstof vir uitreike word deur die span, bestaande uit ongeveer 30 mense self verskaf.
"'n Uitreik na byvoorbeeld Oudtshoorn en Mosselbaai kos ons enigiets tussen R500-600 per persoon. Brandstof en gas vir ons uitreike is van die grootse uitdagings om gedek te kry."
Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'