MOSSELBAAI NUUS - 'n Nege-en-veertigjarige vrou het op Maandag, 23 Augustus in die Mosselbaai-streekhof verskyn op aanklagte van diefstal en geldwassery wat verband hou met bedrog van meer as R477 430 by die Mosselbaai Golfklub.
Valke woordvoerder, Zinzi Hani sê die verdagte is op 3 Augustus gedagvaar om in die hof te verskyn.
Hani sê die vrou word daarvan verdink dat sy tussen April 2015 en Julie 2016 die geld by die gholfklub op Mosselbaai gesteel het, waar sy as rekenmeester gewerk het.
“Ondersoeke het aan die lig gebring dat die verdagte na bewering geld uit haar werkkluis geneem het en die geld ná werk op slotmasjiene geblaas het. Die saak is na die Valke verwys nadat die klub se ouditeure die onreëlmatighede ontdek het, ” sê Hani.
Die vrou het na bewering 21 deposito's in haar persoonlike bankrekening gemaak.
Die saak is uitgestel na 17 November.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'