MOSSELBAAI NUUSFLITS - Enige tyd tussen 20:00 op Maandag 18 September en 02:00 op Dinsdagoggend 19 September, het 'n vermetele misdadiger die moed gehad om by 'n polisiekantoor van die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid in te breek.
'n Skootrekenaar is gesteel.
Die boef het 'n ruit van een van die tydelike kantore gebreek, en te oordeel aan bloedspatsels op die toneel, 'n sny in die proses opgedoen.
Benewens die rekenaar, word geen ander besittings uit die kantoor vermis nie.
Dit blyk die misdadiger het toegang tot die perseel deur 'n gat in die omheining bekom.
Daar is verskeie groot gate in die omheining naaste aan die ondersoekbeamptes se kantore.
Ondanks aanduidings dat probeer is om die gate toe te maak, is daar steeds verskeie gate sigbaar.
Die rekenaar is waarskynlik nutteloos vir die persoon aan wie dit verkwansel is aangesien dit slegs aanlyn by die KwaNonqaba-polisie gebruik kan word.
Sonder direkte netwerktoegang funksioneer die rekenaar nie.
Dit kan uitgeken word aan die polisie se kenteken wat op die sigblad is wanneer die rekenaar aangeskakel word.
Dit sal selfs nie funksioneer as dit by 'n polisiekantoor anders as KwaNonqaba-polisiestasie aan die polisie se rekenaarnetwerk gekoppel word nie.
Van die ander gate in die heining waardeur selfs 'n volwassene met gemak toegang tot die polise se perseel kan bekom.
Die polisie versoek enige persoon met inligting oor die voorval, of aan wie die rekenaar te koop aangebied is, om die ondersoekbeamte, sers Rudi Swanepoel (044 606 5600 of 082 488 0536) te kontak.
Alle inligting sal streng vertroulik hanteer en mag goed beloon word.
Die Mossel Bay Advertiser het reeds by herhaling berig oor die uitdagende omstandighede waaronder lede van die polisie by die KwaNonqaba-polisiestasie moet werk.
Hoewel die departement openbare werke by herhaling aangedui het dat herstelwerk beplan word, is steeds nie gevorder met enige van die opknappingswerk wat uiters nodig is nie.
Vroegoggend is die gebreekte ruit tydelik met plastiek verseël om die wind en weer uit te hou. Die gebreekte glasstukke is sigbaar op die grond.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'