Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Goukam Health APD (association for people with disabilities), 'n nie-regeringsorganisasie in Riversdal bied sedert 2011 'n veilige hawe vir geaffekteerde pasiënte.
Illze Olivier, bestuurder van die sentrum vertel hulle is nie by die Wes-Kaapse departement van gesondheid geregistreer nie en maak baie staat op skenkings vanuit die gemeenskap.
Inwoners word normaalweg vir drie weke by Goukam Health behandel en versorg, maar in uitsonderlike gevalle kan hulle langer aanbly. Hulle kan tot 11 pasiënte huisves, wat versorging, vermaak en kos insluit. Na gespesialiseerde behandeling word die pasiënte na ander versorgingsoorde, of na hul families uitgeplaas. "Ons wil graag met musiekterapie begin. Om dié droom te bewaarheid benodig ons skenkings van musiekinstumente, soos 'n klavier, kitaar, dromme, 'n blokfluit en ander instrumente." Ilse-Marie Nel, een van die pasiënte wat weens 'n gewas op die brein gehospitaliseer was en nou nasorg by Goukam Health ontvang, sê enige lekkernye sal welkom wees. "Ons deel dit tussen ons," vertel sy.
"Die meeste van ons pasiënte kry slegs ongeskiktheidstoelae en daar is 'n geweldige nood vir toiletware soos seep, sjampoe, tandepasta, tandeborsels, Prep en selfs room. Ons het ook vrywilligers nodig om van ons rolstoelpasiënte vir uitstappies te neem," noem Olivier.
'n Plaaslike bank het dié veilige hawe en plek waar pasiënte 'n kans op herstel het om met hul geliefdes te herenig, raakgesien en met 'n R20 000 skenking dit moontlik gemaak om die gebou in Langstraat 40 te verfraai en meer gestremdvriendelik te maak.
Kyk 'n video hieronder:
Vorige artikel: Persone met gestremdhede benodig jou hulp
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'