MOSSELBAAI NUUS - 'n Twee-en-twintigjarige vrou van Mosselbaai is steeds in rou nadat haar op die oog af gesonde baba, slegs drie dae geleef het.
Chelci Lucas se baba, Chedin sou op 13 Maart gebore word. Sy het 'n plaaslike kliniek op die dag besoek. "Die verpleegsuster het my gerus gestel dat babas nie altyd op hulle due date kom nie." Sy sê dat haar baba met die besoek en daarna nog normaal beweeg het.
In die vroeë oggendure van Saterdag, 16 Maart het Chelci se kraampyne begin. Sy berig dat sy om 03:00 in die Mosselbaai provinsiale hospitaal opgeneem is nadat sy per ambulans vervoer is.
Volgens Chelci het sy moeilik ontsluit, maar haar baba se hartklop is deur die nag- en dagskofpersoneel gemonitor en aangeteken as normaal. "Die suster het later my water gebreek en gesê ek moet druk. Die koppie was groot, toe moes ek geknip word." Sy vertel dat toe haar baba se koppie uiteindelik uit is, dit gevolg is deur die regterskouertjie. "Die verpleegsters moes my maag knie om te help."
Chelci was glo 13 ure in kraam voor haar baba gebore is. "Ek het gevra hoekom huil hy dan nie, toe die verpleegsters sê my baba is moeg." Chedin het in daardie stadium nie self asemgehaal nie.
Die baba moes na die George provinsiale hospitaal oorgeplaas word vir mediese sorg. "Ons moes amper vier ure wag vir die ambulans om ons te vat."
Chedin het drie dae geleef voor hy in die hospitaal op George oorlede is.
Chelci beskryf haarself as 'n fyngeboude persoon. Chedin is haar eerste baba en was bykans 5kg by geboorte. "Hy sou 'n gesonde baba gewees het, maar die kraam was die probleem." Sy en haar familie het vrae oor waarom haar baba nie deur middel van 'n keisersnit gebore kon word nie.
Chelci sê dat haar familie met regstappe teen die hospitaal begin het. "Hulle wou met ons vergadering hou, maar ek kan nie sien hoe dit gaan help nie."
'n Navraag oor die baba se dood is gerig aan die Wes-Kaapse departement van gesondheid.
"Ons innige simpatie aan me Lucas en haar familie. Die saak word tans ondersoek en terugvoering sal aan die ouers gegee word," het Nadia Ferreira, 'n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid by navraag gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'