SUID-KAAP NUUS - 'n Span regsverteenwoordigers van Lawyers for Human Rights, die onafhanklike menseregte-organisasie met 'n 39-jaar-rekord van menseregte-aktivisme en openbare belangestrydvoering in Suid-Afrika, het die gemeenskappe van onder meer Herbertsdale en Buisplaas die afgelope week besoek.
Op Herbertsdale is 'n aantal kwessies gelug, maar een van die grootste probleme wat na verwagting dringende aandag van die regsverteenwoordigers sal ontvang, is die probleme wat inwoners van Buisplaas ondervind met toegang tot die Gouritzrivier vir visvangdoeleindes.
Die gemeenskap beweer dat ondanks hul gemenereg-gebruik en bestaande visvangpermitte uitgereik deur die departement seevisserye om vis te vang in die Gouritzrivier in 'n area bekend as die Eiland, word hul regte skynbaar bedreig deur die eienaar van 'n naasliggende plaas wat hulle gereeld van die rivier verwilder.
"Ek is 58 jaar oud. Vandat ek my verstand gekry het, vang ons mense al daar vis. My oupa se oupa het al daar visgevang," het 'n besorgde inwoner gesê.
Die Buisplaas-gemeenskap het beweer hul reg tot toegang van die rivier word bedreig sedert 'n gasteplaas in die omgewing gevestig is en dat die eienaar van die gasteplaas beweer die gaste vind hul gebruik van die rivier steurend.
Namens Lawyers for Human Rights het adv Anna-Marié de Vos die beginsel van gevestigde regte verduidelik en het onderneem om, nadat die regsverteenwoordigers self die betrokke area besoek het, ondersoek na die probleem in te stel.
Weens die besoek ter plaatse aan Buisplaas kon die regsverteenwoordigers nie ook met beswaarmakers vergader nie wat beweer dat huiseienaarsverenigings in Mosselbaai hul van hul reg van toegang tot strande vir visvang ontneem.
Lawyers for Human Rights het egter die onderneming gegee om, gegrond op inligting wat aan hulle verskaf sal word, dié kwessie te ondersoek.
Behuising
"Ons mense van Herbertsdale woon steeds in hokkies en karavane in die agterplaas van huise terwyl hoevele huise van die nuwe behuisingsontwikkeling van 154 huise op die dorp steeds leeg staan." Hierdie klagte en beweringe van bedrog in die toekenningsproses van huise aan begunstigdes sal ook deur die regsverteenwoordigers opgeneem word.
Soortgelyke aantygings kom volgens Lawyers for Human Rights by heelwat munisipaliteite regoor die land voor.
Die regsverteenwoordigers het onderneem om ingevolge die Bevordering van Administratiewe Geregtigheidswet, 2000 (Wet 3 van 2000) (PAJA) alle inligting betreffende die behuisingsprojek te bekom en, indien nodig, namens die gemeenskap in te tree.
Aalwyntappers
Die regsverteenwoordigers het ook gehoor dat verskeie grondeienaars hulle dwing om 'n deel van hul opbrengs van aalwyntap wat op die padreserwes geskied, aan die grondeienaars te gee. "Die grond behoort aan SANRAL, maar die aalwyntappers moet steeds 'n deel afgee," is beweer. Ook in hierdie geval is te kenne gegee dat die regsverteenwoordigers namens die gemeenskap kan toetree om die probleem aan te spreek.
Begraafplaas
Inwoners van Herbertsdale het ook die grafkoste verbonde aan die uitgrawing van grafte opgehaal. Hulle beweer hul moet die koste vir die maak van die gat vir die graf betaal hoewel familielede self die gat moet grawe. Ook hiermee, het adv De Vos gesê, kan 'n plan gemaak word.
Icosa se streeksverteenwoordiger, raadslid Dawid Kamfer saam met regsverteenwooridgers van Lawyers for Human Rights, Louise du Plessis en (adv) Anna-Marié de Vos. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'