Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaaiers reageer sedert die naweek se goeie neerslae baie opgewonde oor die stygende damvlakke wat daartoe gelei het dat die streng waterbeperkings deur die munisipaliteit verslap is.
Voortaan kan inwoners weer tuine outomaties besproei, maar die munisipaliteit maan dat Vlak Een-waterbeperkings steeds geld. Hiervolgens word inwoners versoek om steeds baie spaarsamig met water te werk en vrywillig ten minste 10% van hul normale waterverbruik te bespaar.
"Mosselbaai, trouens die Wes-Kaap is in die greep van 'n knellende droogte. Die onlangse reën het wel verligting gebring, maar die goeie neerslae beteken nie die droogte is verby nie," maan die munisipale woordvoerder, Colin Puren.
Hoewel die damvlak van die Wolwedans vandeesweek tot bó 62% gestyg het en die Ernest Robertsondam trouens oorloop, is die Hartebeestkuildam in die Hartenbosrivier steeds effektief droog.
Ook die Klipheuweldamvlak het nie noemenswaardig gestyg nie. Gemeenskappe in veral Herbertsdale en Buisplaas se drinkwaterprobleme word steeds indringend deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangespreek.
Spaar steeds water
Inwoners word versoek om steeds vrywillig water spaarsamig te gebruik sodat die watervlakke van die damme wat Mosselbaai van drinkwater voorsien, gehandhaaf kan word.
- Met die damvlakke bo 60% mag tuine weer natgelei word.
- Sodra die damvlakke onder 60% daal, geld onder meer die spesifieke beperkings betreffende besproeiingstelsels en tuinslange (net met die hand vasgehou) weer.
- Sou damvlakke weer tot onder 50% daal, geld onder meer die hoër verbruikstariewe en geen-tuinslange reëling.
Intussen word almal gevra om - soos tot baie onlangs - steeds minstens 10% van normale waterverbruik te spaar.
Herbertsdale
Op Herbertsdale, waar die Langtourivier vandeesweek die eerste keer in jare weer gevloei het, het inwoners weer water in die krane. Tog gaan die munisipaliteit voort met die sink van 'n boorgat ongeveer agt kilometer buite die dorp. Dit volg nadat die boorgat wat net voor Kersfees gesink is tot op 300 meter, geen water opgelewer het nie.
Op Maandag, 13 Januarie is begin om die tweede boorgat te sink en boorwerk sal tot op 300 meter voortgaan om te verseker dat die maksimum opbrengs daaruit gehaal sal kan word, sou die boorgat genoegsame water van goeie gehalte lewer.
Die boorwerk word egter gekortwiek deur buitengewone harde rotsformasies wat die proses vertraag. Sou die watervolumes en kwaliteit na wense wees, sal kwaliteitstoetse en analises volg alvorens 'n pyplyn en pompe geïnstalleer kan word.
Tog het die onlangse goeie neerslae daartoe gelei 'n boorgat wat onlangs opgedroog het, weer water kan lewer. Water word gevolglik weer na die dorp se reservoirs gepomp en sedert Dinsdag het die dorp weer water in hul krane.
Die munisipaliteit hou steeds op die korttermyn die watertenks vol totdat die stelsel gestabiliseer het.
Gouritsrivier
Om watersekerheid te verbeter het die munisipaliteit met die Wes-Kaapse department van plaaslike regering ooreengekom dat 'n derde boorgat in die middel van die Gouritsrivier gesink sal word sodra die boorwerk aan die huidige nuwe boorgat voltooi is.
Werk aan hierdie derde boorgat sal voortgaan ongeag die opbrengs en waterkwaliteit van die boorgat waaraan sedert 13 Januarie gewerk word.
Alhoewel groot opgewondenheid ook heers aangande die feit dat die Gouritsrivier vir die eerste keer in jare water gekry het, het dit by besoek van die Mossel Bay Advertiser op Woensdag, 22 Januarie geblyk asof die rivier steeds maar net soos 'n sterk spruit loop. Landbouers in die omgewing was ten tye van die besoek besig om voerskenkings vir hulle vee af te laai.
'n Landbouer het tydens die Advertiser se besoek ook gesê dat dit lank sal duur voor die veld genoegsaam herstel om as weiding te gebruik.
Ander landbouers in die distrik het ook opgemerk dat damme wat opgedroog het, steeds nie merkbaar opgevul is nie ten spyte van die week se reenval. Hulle het egter gese dat die sagte reën baie welkom is aangesien dit wegsink in die grond en nie harde buie is wat erosie en ander skade veroorsaak nie.
Kyk 'n video hieronder:
Buisplaas
"Sodra die werk aan die boorgate op Herbertsdale afgehandel is, sal die boorwerk aan twee boorgate op Buisplaas begin," sê die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
Mosselbaai-munisipaliteit het die inwoners van Herbertsdale bedank vir die wyse waarop die ouer garde en siek persone bygestaan is om water by opgaartenks te gaan haal en vir hul samewerking tydens die knellende droogte bedank.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het Herbertsdale besoek waar 60 leerders sedert die aanvang van die nuwe skooljaar in koshuisomstandighede ook aan die droogtetoestande blootgestel is. 'n Groot hoeveelheid gebottelde water is aan die koshuisleerders geskenk.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'