Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaaiers het vroeg Sondagoggend, 29 September reeds op sosiale media hulle opgewondenheid en dank oor die reën wat uitgesak het te kenne gegee. Sommige het ook die donderweer, effe buitengewoon vir die Wes-Kaap, met waardering verwelkom.
Maar gou het geblyk dat die Suid-Afrikaanse Weerdiens se waarskuwing dat die swaar reën wat voorspel is oorstromings tot gevolg sal hê, 'n voldwonge feit was.
Kort na die eerste swaar buie, is berig dat paaie in Hartenbos in "riviere" verander het. Videos wat deur lede van die publiek geneem is, het die stand van sake bevestig en dit het soos 'n veldbrand op sosiale media en WhatsApp-groepe versprei.
Stormwater het in parkeerareas voor winkels in Hartenbos, veral in die hoofstraat opgedam. Ook by die Hartenbos Seefront, het die parkeerarea in 'n oogwink in 'n dam verander.
Reënwater staan opgedam in Hartenbos regoor Spar.
'n Gedeelte van 'n keerwal op die toegangsroete na Vogelsang oftewel Vakansieplaas het in duie gestort. Die duikweg op pad na die Bayview-woongebied was ook bykans onbegaanbaar vanweë opgedamde reënwater.
Van die woongebiede wat die ergste deurgeloop het is die Monte Christo-ekolandgoed buite Hartenbos. Hier is plaviesel uit die toegangsroetes binne die landgoed weggespoel en daar word berig dat die stormwater deur sommige huise beweeg het.
Vista-rolbalbaan op Klein Brak is onder 'n 3cm modderlaag gelaat.
Alhoewel geen ernstige skade aangemeld is nie, toon foto's op sosiale media dat huise modderig en vol opdrifsels na die oorstromings gelaat is. Na wat verneem word, is daar nie verdere erge skade in ander woongebiede aangemeld nie.
Etlike videos is ook op sosiale media geplaas wat toon hoe reënwater deur en verby kampeerders se kampplekke stroom. Vreugde oor die reënval het deurgaans swaarder geweeg as die ongerief van alles wat in die proses deurnat geraak het.
Die Mosselbaai-munisipaliteit se spanne moes vir 'n geruime tyd deur die loop van Sondag bontstaan om oral hand by te sit soos berigte van swaar reën ontvang en probleme gerapporteer is. Kragonderbrekings is ook in omliggende areas ervaar.
Ook in die omliggende gebiede, soos in die Herbertsdale-distrik waar groot waternood heers, is goeie reënval op plase langs die Gouritsrivier aangemeld.
Watter mooier gesig in droogtetyd is daar nie, as 'n amper vol reënmeter nie?
Die syfers ontvang lyk soos volg:
- Danabaai - 50mm
- Mosselbaai dorp - 50mm
- Hartenbos – 49mm
- Heiderand – 40mm
- Herbertsdale – 42 mm
- Ruiterbos - 15mm
• In sommige gevalle is hierdie nie die finale syfers gemeet nie.
Lees 'n vorige artikel hier: Access route to Vogelsang temporarily closed
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'