MOSSELBAAI NUUS - En daar, 'n reënerige aand ten spyt, herleef Mosselbaai se sakekern van weleer, die Prince Vintcent-gebou, tydens die eerste aandmark wat verlede Vrydag, 2 Oktober gehou is. "Die mark is gebore vroeg in 2020 as die breinkind van ons maatskappy toe opwinding vir die nuwejaar nog groot en die herlewing van die middedorp op almal se lippe was," vertel Adelai Alberts van CoetzeeAlberts Argitekte.
Volgens Alberts was die oogmerk om Mosselbaaiers opnuut trots te maak op die dorp se argitektoniese erfenis, veral nadat die Prince Vintcent-gebou se binnehof so mooi opgeknap is. Met April in die visier vir 'n markdatum, het die Covid-19-pandemie hulle na die tekenbord laat terugdraai om te herbeplan.
Alberts sê dat die mark op Mosselbaai se permanente inwoners en nie op toeriste gemik is nie.
"Ons het probeer om unieke stalletjies te nader wat markgangers se aandag sal trek, nie te veel van dieselfde tipe nie en om sodoende Mosselbaai en die Tuinroete se aanbiedinge ten toon te stel.
"Ons dorp en die Tuinroete is vol talentvolle bakkers, kunstenaars, huisvrouens, skrynwerkers, juffrouens ensomeer - gewone mense met Godgegewe talente waarin ons moet belê."
Ten spyte van die weer, was die aand 'n reusesukses wat bywoning betref. "Ons was stomgeslaan deur die opkoms. Wat 'n wonderlike voorreg om na die grendeltydperk, wat soos jare gevoel het, 'n klomp vrolike stemme te hoor en gemaskerde gesigte bymekaar te sien."
Aan vermaak was daar ook geen tekort nie met instrumentele musiekuitvoerings, asook Franse kafeemusiek en 'n optrede deur die a capella-groep, OpRoep.
"Almal vra reeds wanneer die volgende een is. Binnekort, maar nie te gou nie."
'n Versameling van unieke stalletjies was 'n groot trekpleister.
Die reënweer het geen effek op die bywoning gehad nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'