MOSSELBAAI NUUS - Op Maandag, 21 Januarie het verskeie heldedade stil-stil afgespeel toe 'n verswelgende brand omstreeks tussen Menkenkop en Hartenbos Heuwels ontstaan het.
Werkers van bou-aannemers het hul terreine verlaat om inwoners te help om besittings teen die naderende brande te beskerm.
By een van die huise wat in die slag gebly het, het die Garden Route DBV van Mosselbaai se inspekteur, Mariska Jacobs vreesloos 'n Rottweiler wat alleen tuis was terwyl sy eienaars nie beskikbaar was nie met die hulp van lede van die polisie na veiligheid gehelp.
"Die hond se snorbaarde is heeltemal af, sy is baie geskok, maar sy is veilig," het inspekteur Jacobs by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Jacobs sê terwyl sy agter die brandende huis die hond probeer red het, het die dakteëls van die huis begin ontplof.
Die DBV se personeel het 32 diere gered, waaronder net een kat genaamd Hazel.
Inspekteurs Jacobs, Ruanlie Oosthuizen en Henrico Peypers het met drie voertuie hul na die toneel gehaas. Jacobs was eerste op die toneel omdat sy die rook kon sien toe sy vanaf Riversdal na Mosselbaai gery het. Sy het onmiddellik na Hartenbos Heuwels gery en kon daarin slaag om die verkeersopeenhoping vry te spring en onmiddellik hulp te verleen.
Verskeie diere, onder meer 'n jong bokkie wat as pasiënte van die Hartenbos Dierehospitaal behandel is, word tans by die Mosselbaai Dierehospitaal behandel nadat hulle van die brand in die Hartenbos Heuwels-omgewing gered is.
Dierehospitaal ontruim
Personeel van die DBV asook vrywilligers van S.M.A.R.T. was gou op die toneel om na diere in die omgewing om te sien.
Die DBV het voertuie beskikbaar gestel om inwoners se troeteldiere na veiligheid te neem, terwyl S.M.A.R.T. se vrywilligers aanvanklik gehelp het om die pasiënte van die Hartenbos-dierehospitaal na veiligheid te bring. Waar moontlik is dié diere-pasiënte na die Mosselbaai-dierehospitaal gehaas om hulle die trauma en rookinaseming van die vuur te spaar.
Die brand het tot op die randsteen voor die dierehospitaal gevorder voordat dit geblus is.
Daarna het die vrywilligers hulle by die DBV aangesluit om na beseerde en verwilderde diere te soek en om verder ook hulp en verversings aan die brandbestryders te verleen.
Ernest Vivier by die hond van 'n bejaarde inwoner wat hy gered het. Beide die troeteldier en inwoner is ongeskonde. Foto: Tersia Marais
Lees 'n vorige artikel hier: Diere van brand gered
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'