MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie het verlede week 'n kans gekry om die effektiwiteit van hulle aksieplan wat betref plaasaanvalle tydens 'n simulasie te toets.
Die simulasie is Woensdag, 10 Julie in die vroegoggendure om 05:45 op 'n plaas buitekant Hartenbos gehou. Tydens die scenario, sou 'n plaaswerker die polisie skakel nadat hy glo skote gehoor het. Hy sou 'n beskrywing van die voertuig, sy werknemer s'n, waarmee die verdagtes sou gevlug het, gee.
Die plaaswag is onmiddellik geaktiveer om die reaksieplan op die proef te stel.
'n Belangrike deel van die simulasie was juis om die paaie rondom die misdaadtoneel toe te maak en te monitor sodat die "verdagtes" aangekeer kon word.
"Die reaksietyd van alle rolspelers, was baie goed en die 'verdagtes' is suksesvol aangekeer," het 'n woordvoerder van die polisie gesê. Die simulasie het hierdie keer nie in geheimhouding plaasgevind nie, juis omdat die rolspelers die plan wou toets en deeglik wou kon notas maak van waar aanpassings gemaak moet word om dit te verfyn.
Teen 06:50 was die oefening verby en het alle rolspelers verdaag. 'n Nabetragtingsessie word binnekort gehou om die sukssesse en aanpassings wat gemaak moet word, te bespreek.
Polisielede betrokke by plaaswagte in ander dorpe in die Da Gamaskop-polisiesone het ook aan die oefening deelgeneem. Hier is adjudant-offisiere Blackie Swart (Heidelberg), Pierre Botha (Da Gamaskop-polisie se bevelvoerder vir die landelike sektor), Thea Badenhorst (Albertinia) en Thinus Newman (Da Gamaskop). Foto: Cornelle Carstens
Meer as 10 voertuie van lede wat aan die plaaswag behoort, het deelgeneem aan 'n reaksieplan-oefening tydens plaasaanval-simulasie wat vandeesweek gehou is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'