Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die stof het kwalik gaan lê oor renjaer Lewis Hamilton se kop nadat hy glo 'n botsing met Max Verstappen veroorsaak het tydens die Britse Grand Prix, of 'n ander ramkat - dié keer op Hartenbos - maak amok, ook in 'n Mercedes Benz.
Die moles het op 30 Julie in die motorhuis van André en Heilani Streuderst afgespeel toe hulle hondjie, Kiko vir hulle Mercedes begin blaf het. Gou was daar 'n verklaring vir die geblaf. 'n Kat het hom onder die voertuig se enjinkap tuisgemaak.
Die volgende dag het hulle die voertuig buite gelos met die enjinkap oop in die hoop dat die kat sou uitklim. Inteendeel, dieselfde scenario het hom afgespeel. Sondag het die toneel homself herhaal en Maandag het André probeer om die kat met water onder die enjinkap uit te kry.
"Die aand het ek en my seun gesien die kat klim uit die voertuig en het toe agter 'n paddle board gaan wegkruip." Toe hulle nadergaan, is die kat weer onder die voertuig in. Dinsdag het hulle 'n vanghok by Strandloper-dierekliniek gaan haal.
Dr Stelouise Lourens van Strandloper dierekliniek saam met Ockie van Zyl saam met Lewis Hamilton by sy tydelike tuiste. Foto: Jannie du Plessis
Selfs met tuna as lokaas, kon hulle nie hond haaraf maak nie. Volgens Heilani het sy die kat herken as 'n wilde een wat gereeld in die omgewing gesien word. Sy help gereeld om rondloperkatte te vang en na veiligheid te neem.
Ockie tot die redding
Woensdag is Heilani na Tyremart in Mosselbaai waar hul gereelde kliënte is om te verneem of hulle dalk behulpsaam kan wees om die kat uit die voertuig te haal. Ockie van Zyl het dadelik aangebied om die kat uit te haal.
"'n Tyd gelede het ek 'n dassie uit 'n enjin gehaal," vertel Ockie aan die Mossel Bay Advertiser.
Na sowat twee ure het hy met 'n groot gespook en 'n paar krapmerke, die kat met sukses uitgehaal waarna hy na die Strandloper-dierekliniek geneem is.
"Dis die mooiste, mooiste spierwit kat met 'n gemmer stert en blou ogies," vertel Heilani.
Kyk 'n video hieronder:
Nadat dr Stelouise Lourens die kat gesteriliseer het, is hy waarskynlik nou minder kaatjie van die baan. Volgens haar is hy sowat vyf maande oud en verskriklik wild. Later kon sy hom darem streel.
"Ons sal graag vir hom 'n huis wil kry. Voorlopig noem ons hom sommer Lewis Hamilton, die Formule 1-renjaer vir Mercedes Benz," lag Heilani.
Lewis Hamilton
Heilani Streuderst
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'