MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap Amateur Radio Klub het op Saterdag, 29 Oktober 'n veldstasie opgerig in die parkie oorkant die Heiderand Mall.
Die klub is 'n filiaal van die Suid Afrikaanse Radio Liga (SARL) se Nood-kommunikasie arm Hamnet.
Die doel van die veldstasie was om die klub se paraatheid te toets om radio-kommunikasie sonder Eskom krag en sonder die selfoon te kan bedryf. Die toets is of die klub kommunikasie kan bedryf onder ramptoestande waar geen ander kommunikasie-middele beskikbaar is nie.
Die toerusting wat gebruik is, sluit in radio's wat kortgolf en baie höe frekwensies kan bedien, sonpanele om die batterye te laai en tuisgemaakte antennas.
Kontakte is gemaak met Kaapstad, Kaap Agulhas, Witsand, Stilbaai, Oudshoorn, George en Mosselbaai.
Die doel van Hamnet is om ondersteuning met noodkommunikasie te lewer aan die plaaslike owerhede hier in die Suid-Kaap.
Voorbeelde waar noodkommunikasie deur radio-amateurs gelewer is, sluit in die vloede in Laingsburg in 1981en meer onlangs brande in Knysna en vloede in Kwazulu-Natal.
Vir meer besonderhede oor die klub, kontak die voorsitter Abe Zwiegelaar (082 851 8417).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'