MOSSELBAAI NUUS - Met internasionale vuurtoring-naweek, wat elke jaar die derde week in Augustus gevier word, het Eden-radioklub nie op hulle laat wag nie. Hulle het reeds in Junie met hul beplanning begin om Ystervarkpunt-vuurtoring die naweek van 18 en 19 Augustus te besoek.
Aangesien vuurtorings deel vorm van Portnet moes daar eers toestemming verkry word dat radio-amateurs dit mag gebruik.
As nuwe radio-amateurklub hier in die Suid-Kaap was almal baie opgewonde.
FOTOGALERY: Internasionale vuurtoring-naweek
Ystervarkpunt-vuurtoring is so 10km voor Albertinia naby Gouritsmond. Die vuurtoring het 92 trappe, is 'n goeie 25 tot 30m hoog, werk nog 100% en skyn nog 'n helder lig in die aande vir die skepe.
Gedurende die naweek het die Eden-klub met ongeveer 150 radio-amateurs gesels, en met 10 lighuise kontak gemaak. Saterdag was almal teen 05:00 die oggend op om te sien wie hulle op die radiogolwe kon opspoor.
Teen ongeveer 06:30 was die frekwensie mooi oop en het baie kontak gemaak met onder andere amateurs van Johannesburg, Namibië en ander regoor Suid-Afrika. Daar het hierdie jaar reeds 406 lighuise in die wêreld geregistreer en die Eden-radioklub hoop om sommer baie meer te sien en te hoor in 2024.
Die klub bedank almal wat deel was van die wonderlike vuurtoring-naweek en beplan beslis om volgende jaar weer so te maak.
Vir meer inligting oor die vuurtoringnaweek besoek hul Facebook-blad, Eden Radio Klub.
Lede van die Eden-radio-amateurklub voor Ystervarkpunt-vuurtoring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’