Update
MOSSELBAAI NUUS - Op Maandag, 21 Januarie het 'n besoeker om ongeveer 16:00 by die Punt op Mosselbaai na die see gesit en kyk toe hy iets in die water opmerk. By nadere ondersoek is vasgestel dat dit 'n liggaam is wat in die dieper water agter die sloep gedryf het.
Die ooggetuie, wie se identiteit nie aan die Mossel Bay Advertiser bekend is nie, het die Mosselbaai-polisie asook die plaaslike NSRI gekontak. Minute later het die NSRI en lede van die polisie se duikeenheid die toneel per boot bereik en die liggaam uit die water gehaal. Dit was dié van 'n jong vrou.
Volgens die polisie is sy 'n tiener, óf in haar vroeë twintigs. Teen druktyd was die identiteit van die vrou steeds nie bekend nie. Al wat aan die media bekend gemaak is, is dat sy blank is, lang donker hare het, en 'n donkerkleurige swembroek en denim aangehad het.
Die polisie het bevestig dat geen vermiste persone wat aan die beskrywing van die vrou voldoen, aangemeld is nie. Ook is geen verdrinkings gerapporteer nie.
Die liggaam is intussen vir 'n nadoodse ondersoek na die lykshuis op Oudtshoorn geneem. Resultate van die ondersoek sal binne 'n week beskikbaar wees.
Volgens 'n ingeligte bron was die liggaam vermoedelik nie vir langer as 48 uur in die seewater nie. "Die liggaam het nog nie regtig begin ontbind nie."
Die Mossel Bay Advertiser het ook betroubaar verneem dat daar nie enige sigbare tekens van geweld aan die liggaam was nie.
Enigeen met inligting word versoek om die polisie (044 606 2850) te kontak.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'