Gallery
MOSSELBAAI NUUS - "Mosselbaai-munisipaliteit werk om 'n omgeegees in ons dorp te kweek, om die waardes van Ubuntu te vestig en na te streef. Ons belê nie in die jeug van ons dorp ter wille van 'n spesifieke politieke party nie, maar vir die vooruitgang van ál ons mense. Mosselbaaiers wil nie wegkruipertjie stap nie, ons kweek eenheid en samehorigheid en is bevoorreg om erkenning te gee aan die prestasies van ons jongmense, die leiers van môre," het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal tydens 'n spesiale raadsvergadering op Maandag, 2 Desember gesê toe verskei persone se besondere prestasies gevier is.
Burgemeester Levendal het veral lof gehad vir die 2019-kampioene van die SWD Rugbyunie se munisipale rugbykampioenskappe, die span van Mosselbaai-munisipaliteit.
"Vir talle mense sal die eer wat ons vandag aan die spelers, personeel en ander verdienstelike persone betoon waarskynlik algemeen wees. Die erkenning en dankbetoon is egter die viering van die talent en werksywer van die jongmense van ons dorp, ondanks hul verskillende agtergronde.
"Jongmense is ons toekoms, dit is die jongmense wat by ons as leiers die bestuur van ons dorp sal oorneem en die gemeenskap vorentoe sal neem. Dit is jongmense na wie opgesien kan word en wat die kans aangegryp het om te ontwikkel en nou as rolmodelle erkenning verdien. Dit is 'n voorreg om te sien wat ons jongmense vermag het en om hul prestasies te erken," sê raadsheer Levendal.
Die burgemeester het ook op die belangrikheid van sosiale samehorigheid en die opskerping van en belegging in morele regenerasie verwys.
Daar is ook eer betoon aan onder meer;
- Danica Barnard, lewenslange Miss United Nation International Ambassador. Dit is die eerste toekenning van sy soort deur die United Nation International Pageant System.
- Edna Loxton, 'n leerkrag van Hillcrest Sekondêre Skool vir die erkenning deur die departement van onderwys vir lewenslange prestasie in onderrig.
- William Oosthuizen wat deelgeneem het aan die E1 Enduro-kampioenskap op 5 Oktober en as nasionale kampioen vir motorsport in Suid-Afrika erken word.
- Zehani Lodewyk, 'n leerder van Laerskool Park wat verkies is om die Eden-distrik te verteenwoordig op nasionale vlak in o/13 hokkie en binnemuurse hokkie Pro Series.
- Jaden Valentine, 'n graad 6-leerder van Erika Primêr is verkies vir die o/14 SA junior skaakkampioenskappe in Boksburg en het die Eden-distrik verteenwoordig.
- Jolandé Kuyler van die Mosselbaai-munisipaliteit as toppresteerder tydens die ESRI Suid-Afrika-konferensie in Oktober en omdat sy toonaangewend was om die toekenning vir die Mosselbaai-munisipaliteit in te palm.
- John Fitzgerald, William Potgieter, Mxolisi Qakancu, Jerome Breda, Dalindyebo Ntaka en Zukisa Gweleda vir uitsonderlike dienslewering en lojaliteit jeens die munisipaliteit.
Tydens die onlangse Groenste Munisipaliteit-toekennings het Mosselbaai-munisipaliteit met talle toekennings gespog en vandag is die beamptes wat vir die harde werk wat die toekennings vooraf gegaan het, vereer, onder meer;
- Eric Louw het 'n toekenning verwerf vir die mees-verbeterde prestasie met waterbestuur, asook vir die mees innoverende projek met die installering van slim digitale watermeters.
- Warren Manuel en Mushfiqah Abrahams is vereer vir die mees-verbeterde prestasie in waterbestuur, asook vir kusbestuur en stedelike verfraaiïng en het daarvoor die gesogte Groen-trofee verwerf.
- Sivuyile Mtila is vereer vir die innoverende GIS-stelsel vir afvalbestuur.
- Mosselbaai-munisipaliteit spog ook vir die Groenste Munisipaliteit-toekennings met die glastrofee, 'n bronssertifikaat en 'n belofte vir prysgeld van R100 000.
John Fitzgerald, William Potgieter, Mxolisi Qakancu, Jerome Breda, Dalindyebo Ntaka en Zukisa Gweleda vir vereer vir uitsonderlike dienslewering en lojaliteit jeens die munisipaliteit.
Danica Barnard word met haar prestasie geluk gewens deur die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, raadsdame Venolea Fortuin en raadslid Anton Dellemijn.
Warren Manuel (links) en Mushfiqah Abrahams (middel) is vereer vir die mees-verbeterde prestasie in waterbestuur, asook vir kusbestuur en stedelike verfraaiïng en het daarvoor die gesogte Groen Trofee verwerf. Saam met hulle op die foto is die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee en direkteur beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'