MOSSELBAAI NUUS - Wanneer die Mosselbaai munisipale raad einde vandeesmaand hul maandelikse raadsvergadering hou, sal die lot van die Punt se woonwapark, die speelterrein en kiosk finaal bepaal word.
Die gemeenskapsdienste-portefeuljekomitee het tydens die komiteevergaderings op Woensdag, 11 Julie kennis geneem van die breedvoerige openbare deelnameproses wat die munisipaliteit oor die voorgestelde verhuring van die terrein van stapel gestuur het. Die insette, met kommentaar deur die munisipaliteit is aan die komiteelede voorgehou. Die komitee het besluit dat die item vir goedkeuring na die raad verwys sal word.
Verhuring
Die munisipaliteit het voorgestel dat die woonwapark, speelareas en kiosk aan 'n privaatinstansie vir 'n tydperk van 15 jaar per tender verhuur word. Die voorwaarde is egter dat die privaatpersoon die geriewe tot 'n drie-ster gradering sal opgradeer en dit regdeur die jaar sal bedryf. Tans word die fasiliteite teen 'n verlies deur die munisipaliteit bestuur.
Die fasiliteite sal steeds munisipale eiendom bly, hoewel die bedoeling is dat die privaatinstansie dit op eie rekening en teen 'n wins sal kan bedryf.
Daar sal onder meer van die suksesvolle tenderaar verwag word om die geroeste heining om die woonwapark te vervang en om omgewingsvolhoubare praktyke te implementeer om water spaarsamig te gebruik. Onder meer moet wateropgaartenks geïnstalleer word en gryswater opgevang word vir gebruik in die tuine en vir die was van motors en woonwaens.
Die munisipaliteit vereis ook dat die skaatsplankbane, putt putt-bane en kiosk opgegradeer sal word. Dit mag selfs die geleentheid skep vir nuwe ondernemings mits dit heeljaar vir alle inwoners toeganklik sal wees.
Die suksesvolle tenderaar sal bewys moet kan lewer van ervaring in die bestuur en beheer van oorde, en van die finansiële vermoë om die voorgeskrewe en voorgenome ontwikkelings en opgradering te doen. Die munisipaliteit sal die opgraderings vooraf goedkeur.
Wat vir een persoon kuns verteenwoordig, is vir ander net die ontsiering van 'n ikoniese erfenisterrein.
Openbare deelname
Heelwat insette waarin inwoners onder meer kommer uitspreek oor die historiese waarde van die terrein en hoe dit deur die verhuring daarvan beïnvloed mag word, is ontvang.
Dit blyk uit terugvoer van die voorsitter van die gemeenskapsdienste portefeulje, raadslid Niklaas Booisen, tydens die komiteevergaderings. Raadslid Buda (ANC) het aangevoer dat daar heelwat teenstrydige menings tydens die openbare deelnameproses geopper is en dat sommige gemeenskappe meen dat hul insette nie in ag geneem is nie. Hy het gevra dat die munisipaliteit die openbare deelnameproses opnuut en omvattend moet aanpak. Hy het veral verwys na die gemeenskappe van KwaNonqaba en D'Almeida wat aangedring het dat openbare deelnamevergaderings na-ure in hul areas gehou moet word sodat werkende inwoners ook toegelaat kan word om hul insette te lewer.
Volgens die hoof van die munisipaliteit se regsdienste afdeling, Niel Prins, het die munisipaliteit 'n besonder breedvoerige openbare deelnameproses onderneem en het selfs die nasionale en provinsiale tesourie aan die prosesse deelgeneem. 'n Addisionele openbare vergadering is na-ure in die stadsaal gehou om verdere geleentheid vir insette te bied.
Die verslag wat voor die komitee gedien het, het breedvoerig die insette wat ontvang is, behandel.
Sommige inwoners en deelnemers aan die openbare deelnameproses het 'n sterk saak aangevoer dat die woonwapark se bydrae tot die toekomstige ekonomie uitgedien is. In die besonder is gevra dat die area liefs herontwikkel moet word in 'n toeriste-aantreklikheid gemik op vakansiegangers wat hou van piazza-styl fasiliteite, soos onder meer in Barcelona, Rome of Wene te siene is. Die gedagte is uitgespreek dat die area ideaal is om voorsiening te maak vir handel in plaaslike handwerk en vars visprodukte. Hierop het die munisipaliteit reageer dat daar 'n bewese toerismebasis bestaan vir die bedryf van 'n woonwapark en, sodra opgegradeer, sal die woonwapark 'n groter bydrae kan lewer tot groter toerismegetalle.
Die Khoi het ook gevra dat die area vir restitusie oorweeg moet word en aan die oorspronklike eienaars teruggegee moet word.
Steeds munisipale eiendom
Die munisipaliteit het benadruk dat die woonwapark steeds munisipale eiendom bly hoewel die bestuur en bedryf daarvan geprivatiseer word. Die opgradering van die woonwapark vorm deel van die goedgekeurde, groter opgradering wat vir die Punt-area beplan word.
Die komitee het ook aanbeveel dat, sou die raad met die verhuring van die woonwapark voortgaan, die bestaande personeel ingevolge die arbeidswetgewing na ander poste intern oorgeplaas moet word en dat geen afleggings weens operasionele redes mag volg nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'