MOSSELBAAI NUUS - Die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het die provinsiale ramptoestand weens die knellende droogte wat ernstige afmetings aanneem, tot 31 Desember verleng.
In skrille kontras met die res van die provinsie, beleef Mosselbaai nie dieselfde waternood nie, maar word inwoners steeds versoek om in terme van die ramptoestand ten minste 10% van hul waterverbruik te spaar.
"Hoewel damme in die Mosselbaai-munisipale area by gevalle selfs tot oorlopens toe vol is, beleef die res van die provinsie 'n intense droogte. Inwoners en besoekers aan die area word daarom versoek om uiters spaarsamig met drinkwater te wees," maan die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren.
Op Maandag, 27 November was die Klipheuweldam 78.79% vol en is 3.8mm reën in die dam se opvangsgebied in die voorafgaande sewe dae gemeet. Hierteenoor was die dam 'n jaar gelede 94.72% vol.
In die geval van die Ernest Robertsondam was damvlakke vandeesweek op 100%, teenoor die 100.82% in die ooreenstemmede tyd verlede jaar. Dit is egter interessant om daarop te let dat die dam 0.54% water in die verloop van net een week, vanaf verlede week tot die afgelope week, verloor het.
Die Wolwedansdam, waarvandaan Mosselbaai die gros van sy vars water put, is vandeesweek op 85.90%, en het ook in die bestek van een week 0.74% water verloor ondanks die 11.40mm reën wat in die dam se opvangsgebied in die voorafgaande week gemeet is. "Alle aanduidings is dat 'n droë somer op hande is, en die beskikbaarheid van vars drinkwater moet nie as vanselfsprekend aanvaar word nie."
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'