Lede van die SA Polisie se Openbare Orde Direktoraat en munisipale wetstoepassers het munisipale amptenare bygestaan en daar is berigte ontvang van die gebruik van traangas toe inwoners na bewering opstandig geraak het.
In een geval het 'n minderjarige, Sasha-Lee October, onder die traangas deurgeloop en moes haar ouma, Theresa Ryland, haar tot bedaring probeer bring terwyl haar ogies opge-swel het. Bure het daarna die kind gehelp deur haar ogies uit te was.
"Die mense kom hier, skop ons deure af en vra nie eens wie of waar die eienaars is nie. Wat van die mense wat by die werk is? Hulle gooi ons met traangas. My kleinkind het ook onder die traangas deurgeloop. Hoe moet ons haar by die hospitaal of by hulp kry?" aldus mev Ryland.
Plek-plek in Sewende Laan is die skade van die mees onlangse diensleweringsprotes steeds sigbaar aan brandmerke op die paaie se ryvlak. Dinsdagoggend het inwoners weer buitebande gebrand en klippe op die ryvlakke gepak om verkeer na en van hul wonings te ontwrig.
Politieke leiers was op die toneel en die provinsiale woordvoerder van Icosa, mnr Dawid Kamfer, het die voorval "waarin die armstes van die armes weer eens daaronder moet ly," betreur.
Die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, het by navraag aan die Mossel Bay Advertiser berig dat die munisipaliteit onwettige en hoogs gevaarlike aansluitings van munisipale lamppale af ontkoppel het.
"Onder normale omstandighede behoort dit roetinewerk te wees. Die onwettige aansluitings het na net oor die 300 hoofsaaklik informele wonings gelei. Persele is nie geteiken nie, maar wel onwettige aansluitings. Die gebiede of strate waar die aansluitings ontkoppel is, was onder meer Ndabaniso-, Sijaji- , Mfuleni-, Tembelihle- en Pakamisatrate, Gentswanarylaan en Sewende Laan.
"Die munisipaliteit het 'n verpligting om sy installasies veilig te hou in belang van al die inwoners van die gebied waarvan die oorgrote meerderheid wettige aansluitings het. Klein kindertjies is veral kwesbaar, en 'n bees is so onlangs soos Junie 2014 weens 'n onwettige aansluitings doodgeskok. Die onwettig aanslui-tings lei ook tot die oorlading van die netwerk, en gevolglik kragonderbrekings, tot die nadeel van mense met wettig aansluitings.
"Dit dien daarop gelet te word dat die Munisipale Bestuurder en die munisipaliteit ingevolge die Beroepsveiligheid- en Gesondheidswet aanspreeklik gehou kan word vir sterftes of beserings weens onveilige munisipale installasies en dus ook die onwettige aansluitings," aldus mnr Hill.

Die polisie en munisipale wetstoepassers het in onder meer Sono- en Nxasanastraat in Sewende Laan die munisipale amptenare bygestaan toe onwettige kragtoevoere afgesny is. Icosa se provinsiale woordvoerder, mnr Dawid Kamfer, het inwoners bygestaan.

Een van die talle hope elektriese kabel wat gekonfiskeer is toe onwettige aansluitings tot niet gemaak is. Foto: Verskaf

Polisie verbonde aan die provinsiale Openbare Orde Direktoraat het die munisipale personeel na geteikende areas vergesel

Inwoners het weer eens buitebande op strate se ryvlakke brandgesteek en groot klippe gepak in 'n po-ging om toegang tot die area te beperk toe die Mosselbaai Munisipaliteit se amptenare, onder begeleiding van die SAPD Openbare Orde Direktoraat en munisipale wetstoepassers, onwettige kragtoevoere in die Sewende Laan en Asla Park woonbuurtes van KwaNonqaba afgesluit het.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'