MOSSELBAAI NUUS - Die Hartenbos Drawwers bied Saterdag, 7 Januarie 'n pretdraf aan van 4.6km, vanaf die Hartenbos Seefront al langs die wandelroete af en strandlangs terug.
Die inskrywingsgeld van R30 word gebruik om fondse in te samel vir die 16 SA visueelgestremde rolbalspanlede wat in Maart aan die Wêreldkampioenskap in Australië gaan deelneem.
Eben Fourie en sy gids, Charles Collen, van die Hartenbos-rolbalklub is deel van die span. Deelnemers word aangemoedig om 'n sonbril te dra soos die blinde rolbalspelers gewoonlik doen.
Hulle kan ook 'n blinddoek, toutjie en 'n gids saambring om saam te hardloop en dan halfpad omruil.
Alles om 'n gevoel te kry van die uitdagings wat visueelgestremdes moet oorkom as hulle wil rondbeweeg.
Drawwers kan van 08:00 af naby die radiostasie op die Hartenbos Seefront registreer met die pretdraf wat 09:00 begin.
Volgens Hannetjie Fourie, die organiseerder van die wedloop, dui die naam "Blast of the Past"...van Toeka se Dae....op tweedehandse medaljes wat hulle van oraloor ingesamel het en wat aan deelnemers wat klaargemaak het, uitgedeel word.
Vir meer inligting, kontak Hannetjie Fourie op 082 933 2254 of Ferdie Nel 083 294 2640.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'