MOSSELBAAI NUUS - Verteenwoordigers van Powertown en die Mosselbaai-munisipaliteit het onlangs weer vergader oor inwoners van die area wat nie na Sonskynvallei wil verskuif nie.
Die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het die komitee wat die gemeenskap in die gesprekke verteenwoordig bedank vir die goeie gesindheid waarin die gesprekke plaasgevind het.
In 'n skrywe aan die verteenwoordigende komitee noem die munisipaliteit dat daar ooreengekom is op 'n pad vorentoe.
Die komitee het agt opsies, wat in die verlede ook reeds geopper is, weer eens opgehaal as alternatiewe plekke waar die gemeenskap bereid is om moontlik hervestig te word.
Nadat die komitee die presiese persele se ligging uitgeklaar het, is met die munisipale bestuurder ooreengekom dat die munisipaliteit 'n ondersoek sal loods na die lewensvatbaarheid van die alternatiewe persele. Daarna sal terugvoer aan die komitee gegee word.
Daarbenewens het die komitee versoek dat basiese dienste soos water en elektrisiteit voorsien moet word aan 'n area bekend as Ferreira's Square. Die komitee is weer eens daarop bedag gemaak dat die betrokke grond nie aan die munisipaliteit behoort nie, maar wel aan die nasionale regering. Die munisipale bestuurder het bevestig dat die munisipaliteit nie regtens fondse mag spandeer op grond wat die munisipaliteit nie besit nie.
Advokaat Giliomee het egter onderneem om met die grondeienaar te beraadslaag om tot 'n oplossing te kom sodat daar wel, in samewerking met die Powertown-komitee dienste op Ferreira's Square voorsien sal kan word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'