Só reageer die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, op die voorvalle vandeesweek by die informele nedersetting langs die N2 by Klein-Brakrivier toe kinders onder meer buitebande op die N2 aan die brand gesteek het en die pad vir 'n tyd gesluit moes word.
"Daar is geweldige moeite oor baie jare gedoen om die Powertown-probleem aan te spreek omdat die nedersetting op die vloedvlakte van die Klein-Brakrivier geleë is. Ons weet almal uit ervaring oor die jare dat Powertown gereeld oorstroom word as die rivier in vloed is, en dat die mense dan ontwrig word en skade ly.
"Daar is reeds verskeie ooreenkomste met die mense aangegaan om hulle te verskuif, maar ongelukkig is ooreenkomste al 'n paar keer verbreek, meestal weens politieke aanhitsery. Dit was Maandagaand opmerklik dat van die mense wat die meeste te sê gehad het, nié inwoners van Powertown was nie," het Raadsdame Ferreira gesê.
Sy het gesê daar is 'n ooreenkoms bereik om die 152 gesinne na Sonskynvallei te verskuif waar daar reeds ver gevorder is met beplanning om nuwe huise vir hulle te bou. Spesiale vergunnings is ook verkry dat daar afgewyk kan word van Regeringsbeleid om nie aan persone onder 40 jaar huise te verskaf nie.
"Ongelukkig wil van die mense nou nie meer trek nie, en dit is duidelik dat daar weer opstokery aan die gang is, deur onder meer mense wat politieke munt uit die situasie probeer slaan. Die Munisipaliteit beskik nie oor ander grond waarheen die inwoners van Powertown verskuif kan word nie.
Deur nie te wil trek soos daar na omvattende onderhandelinge ooreengekom is nie, kan dit volg dat veral die mense onder die ouderdom van 40 jaar hulle in 'n situasie bevind waar hulle nie vir ander huise kwalifiseer nie.
"Ek doen dus 'n ernstige beroep op al die mense van Powertown om hierdie geleentheid te gebruik om geboude huise te bekom in 'n veilige omgewing waar hulle nie so aan die natuurlike elemente blootgestel sal wees nie, " het Raadsdame Ferreira benadruk.
'We bring you the latest Mossel Bay, Garden Route news'