MOSSELBAAI NUUS - Potspel as 'n sportkode het die afgelope twee weke groot belangstelling gekry, tydens die Mosselbaai munisipaliteit se sportfees.
Om die sportfees af te sluit, word 'n spankompetisie (4-man span) môre-oggend, Saterdag, 1 Oktober gehou.
Registrasie is reeds van 09:30 af en die kompetisie begin 12:00 by die On Cue Pool Lounge in Bland Straat.
MOSSELBAAI NUUS - 'n Ope enkelspel-kompetisie is tydens die eerste naweek gehou. Tydens die tweede naweek, waartydens al die sportkodes op die jeug gekonsentreer het, is 'n werkswinkel vir kinders van 12 tot 18 jaar aangebied.
Volgens raadslid Anco Barker, is nuwe talent geïdentifiseer onder die jongmense wat uit onder andere Asla Park, Highway Park, Civic Park, KwaNonqaba, Da Nova, Tarka, Sonskynvallei en Heiderand kom.
"Ons is tans in kontak met Pool4Change, wat fokus op die ontwikkeling van die sport onder die jeug van Suid-Afrika, om 'n gevestigde potspel-sentrum te skep.
SA Ope Potspel-spelers
Ses SA Ope potspel-spelers, Christo van Schalkwyk, Roderick Pedro, Donovan Geswindt, Wayne Hendricks, Duran Claassen en Juan Malgas en Enslin Truter wat in verskeie SA Kampioenskappe deelgeneem het, gaan help met die ontwikkeling en afrigting van die jongmense.
Ons beoog om volgende jaar 'n junior span uit Mosselbaai na die SA Nasionale Kampioenskappe te stuur."
Mosselbaai burgemeester, Dirk Kotzé, het beide naweke die geleenthede bygewoon om die spelers en jeug te verwelkom.
Volgens Barker, het raadslid Kotzé die jeug aangemoedig om hierdie geleenthede wat vir hulle geskep word, aan te gryp.
"Werk hard en fokus op dit wat jy aanpak. Harde werk lei uiteindelik tot sukses"
Stigma
Barker vervolg dat potspel 'n stigma van 'n "drink" sport is wat net deur "hooligans" gespeel word. Die sportkode vereis egter dissipline, strategiese denke, goeie balans en ontwikkel sosiale vaardighede soos wedersydse respek en begrip vir die diverse groepe wat die sport beoefen.
'n Nuwe potspel-liga word vir Mosselbaai beplan, met 'n NPO Mossel Bay Cue Sport wat onlangs geregistreer is.
Die doel is ook om potspel as sport te ontwikkel en sodoende na verskeie gemeenskappe uit te reik.
Raadslid Anco Barker, kan by (082 576 0626) gekontak word vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'