MOSSELBAAI NUUS - Die Rammetjie Uitnek-span van Rauch Gertenbach het onlangs tydens die eerste Southern Africa Animal Cancer Association- oftewel SAACA-potjiekoskompetisie by Dibiki-vakansieoord met die beste pot weggestap.
Kort op hul hakke was die Besige Bytjies van die Mosselbaai Besigheidskamer.
Die Rammetjie Uitnek-span gaan nou volgende jaar Mosselbaai en die Suid-Kaap by die nasionale SAACA-potjiekoskompetisie verteenwoordig.
Die jongspan se skaapnekpotjie was 'n fees en die beoordelaars het behoorlik gesmul. Die Besige Bytjies se beesstertpot het so byna die jongspan se pot in die as, of liewer die kole, laat val. Na verneem word, het die wenspan slegs met 'n skrale een punt die wen gevat.
"Dis vir ons 'n absolute voorreg om te wen," het Alida Kraamwinkel gesê. Volgens haar het Rauch Gertenbach die "jongspan" ingeskryf en moes hulle voor die tyd potjiekoslesse en -oefeninge inwerk.
"En toe wen ons. Wat 'n prestasie hier in Rauch Gertenbach se 100ste bestaansjaar," het sy bygevoeg.
Elke span wat deelgeneem het, het 'n handgemaakte lepel, wat spesiaal deur Dawie Horn gemaak is, as geskenk ontvang. Volgens een van die deelnemers was die lepel groter as sy pot, maar roer het hy geroer.
Volgens Freddie Faul, voorsitter van SAACA Mosselbaai, was dit 'n besonderse prettige geleentheid. Die spanne het mekaar behoorlik die stryd aangesê en oral is stories oor die spesiale potresepte gedeel. Die heerlikste potbrode is bedien en so hier en daar is ook 'n lafenissie vir die keel voorgesit.
"Daar was hierdie jaar sewe heerlike potte," het Faul gesê. Ekstra geld is ook ingesamel met 'n veiling van sommige van die pryse.
"'n Groot woord van dank en waardering aan al die Mosselbaai en omgewing se besighede wat ruimskoots tot die pryse bygedra het. Tot die "probeer weer volgende keer"-pot het 'n prys gewen," het Faul bygevoeg.
Die kompetisie het ook as die bekendstelling van SAACA in die Tuinroete gedien. Diere kry ook kanker en SAACA is in 2020 gestig. Dit is die eerste organisasie in Afrika wat fokus op kanker in diere. Die meeste mense is totaal onbewus van die feit dat ongeveer 45% van honde wat 10 jaar of ouer word aan kanker sterf.
Die geld wat geïn is, sal aangewend word om navorsing te doen rondom die kanker in diere.
Besoek ook gerus die webtuiste vir meer inligting rondom SAACA: www.saaca.org.za
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'