MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai nooddienste is gisteraand, Donderdag 24 Augustus, geaktiveer nadat die brandalarm in die kombuis van die Bardolino Aftree- en Leefstyloord se diens- en verswakte sorgsentrum teen 18:10 geaktiveer het.
By aankoms is bevind dat 'n pot droog gekookte beesstert verbrand het. Dit het veroorsaak dat rook die kombuis verswelg het.
As gevolg van die digte rook en omdat die kombuisdeur toe was, het personeel dadelik die nooddienste ontbied. Uit voorsorgmaatreëls is al 40 pasiënte in minder as 20minute ontruim en na buite geneem, elk met 'n warm kombersie.
Die brandweer het die situasie opgeklaar en geen beserings is aangemeld nie. Al die pasiënte is terug na hul kamers geneem.
Sentrumbestuurder, Clarise Steenbergen, het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die moderne gebou se mure in die kombuis so gebou is dat dit 'n 4 uur buffer gee en genoeg tyd bied om die gebou te ontruim. Behalwe vir rook in die kombuis was geen skade aangerig nie en daar was geen brand nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’