MOSSELBAAI NUUS - 'n Pakkie van groot sentimentele waarde, wat 'n Mosselbaaier aan haar twee dogters in Ierland gepos het, het in verskeie lande gedraai voor dit twee jaar later in die Mosselbaai-poskantoor beland het.
Voorbaai-inwoner Ansel Joubert het met groot liefde en sorg die pakkie bymekaar gesit en dit in 2022 deur die Hartenbos-poskantoor na haar dogters gestuur.
Monument
Binne die pakkie was Ansel se ma se Voortrekker-kappie, wat sy op 16 Desember 1938 met die hoeksteenlegging van die Voortrekker Monument in Pretoria gedra het.
Ansel sê haar dogter se gehekelde dooprok, wat 51 jaar oud is, asook Ansel se oorlede man se pet, wat sy vir haar kleinseun wou gee, was ook deel van die inhoud. Nog kosbare besittings, soos items wat Ansel se ouma gehekel het, was in dieselfde pakkie.
Dié geskenk het egter nooit die beplande bestemming bereik nie en Ansel en haar familie het begin navors waar dit moontlik kon wees. Sy sê hulle het later uitgevind dat dit vir maande aaneen in Dublin was.
Die dooprok.
Athlone
Die pakkie was geadresseer aan Ansel se dogter wat in Athlone, in die Middellande, twee en 'n half uur se ry vanaf Dublin, bly. Ansel sê daar was ná bewering 'n administratiewe fout by Hartenbos-poskantoor gemaak en dit is waar die probleme ontstaan het.
"'n Etiket wat op die pakkie moes wees, was nie daarop geplak nie."
'n Dag nadat Ansel die pakkie by die poskantoor ingegee het, is die personeellid wat dit hanteer het op pensioen en Ansel kon haar nie in die hande kry vir verdere navrae nie. Boonop, bestaan die Hartenbos-poskantoor sedert 30 September 2022 nie meer nie.
Navorsing aanlyn het gewys dat die pakkie ook in Londen en selfs Australië gaan draai het. Toe Ansel met vakansie in Ierland was, het sy self navraag gedoen oor die pakkie, maar blykbaar het die wet verhoed dat die poskantoor die pakkie vir haar kon gee sonder die etiket daarop.
Voorskote wat Ansel Joubert self gemaak het en haar oorlede man se pet.
Stemnota
Op 19 Januarie het Ansel 'n stemnota gekry. Sy wou nie eens daarna luister nie, want dit was van 'n vreemde nommer, maar iets oor "poskantoor" het haar aandag getrek.
Sy het geluister en gehoor dat haar pakkie by Mosselbaai-poskantoor aangeland het. "My hart het amper gaan staan," sê Ansel.
Twee jaar en vyf dae later het Ansel die pakkie teruggekry. Dit was nie oopgemaak nie en alles wat sy daarin gesit het, was op sy plek.
Saam met die kosbare items was NikNaks-tjips, lekkers, droëvrugte, wat intussen bruin en oud geraak het, voorskote wat Ansel gemaak het, materiaal en kunsvlyt-items.
"Ek het so gekerm oor die pakkie dat my familie gesê het ek maak myself siek. Ek het steeds die oorspronklike strokie vir die pakkie. Ek wil net erkenning gee aan Pierre Perks by die Mosselbaaiposkantoor en hom bedank. "Daar is soveel negatiwiteit deesdae, dat ek hierdie mooi, positiewe storie wou oorvertel."
Die Voortrekker-kappie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’