MOSSELBAAI NUUS - Die KwaNonqaba-polisie vra die gemeenskap se samewerking om misdadigheid hok te slaan.
- Luister en slaan ag wanneer honde in die buurt blaf. Selfs kiewiete wat geraas maak, kan 'n aanduiding wees van onbehoorlike beweging in die area. Hou honde snags binnenshuis om beide die inwoners en troeteldiere te beskerm. Hondediefstalle is algemeen.
- Sluit alle eiendom, hetsy wonings of voertuie, en parkeer sover moontlik alle voertuie agter 'n geslote hek of in 'n motorhuis.
- Moenie waardevolle eiendom in 'n motor los nie, nie eens as die voertuig oornag in 'n motorhuis gehou word nie.
- Skryf reeksnommers van alle waardevolle toerusting af en neem foto's daarvan.
Stoor hierdie inligting verkieslik in beide hardekopie en aanlyn op onder meer Google cloud of 'n ander aanlynstoor waar dit toeganklik is selfs al word die rekenaar of selfoon gesteel.
- Sluit aan en ondersteun die plaaslike buurtwag. Buurtwaglede hoef nie almal patrollie te ry nie, maar kan op ander maniere help met die bekamping van misdaad. Buurtwagte moet inwoners ingelig hou van voorvalle en motiveer om voorkomend op te tree.
- Ken die bure, stoor hul kontaknommers en let op hul gewoontes. Kontak die bure as enigiets verdags voorkom, bure is diksels meer toeganklik as wetstoepassers.
- Rapporteer alle verdagte optrede onmiddellik aan die buurtwag en/of polisie.
Maak seker van inligting, nie alle persone wat in strate stap is noodwendig verdagtes nie. Let op die persoon se gedrag, maak notas van kleredrag, kenmerkende eienskappe, wat wetstoepassers kan help om hulle te identifiseer.
- Moenie sakkrappers na die buurt lok deur swartsakke voortydig op straat uit te sit nie. Moet veral nie kospakkies of ou klere op hierdie manier versprei nie, ondersteun liefs relevante organisasies wat vir werklose mense kos gee.
- Moenie toelaat dat onbekende persone enige persele betree nie. As die persoon nie behoorlik geïdentifiseer kan word nie, moenie die persoon op die erf toelaat nie.
- Hou rekord, liefs ook 'n foto van alle personeel wat op die perseel toegelaat word.
Die polisie kan ook gevra word om personeelklarings te doen. Waak veral teen stukwerkers wat net vir die dag in diens geneem word.
- Laai aanlyntoepassings op selfone af wat onmiddellik hulp kan ontbied en geselekteerde kontakte sal inlig van enige nood of gevaar wanneer dit geaktiveer word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'