Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Plaaslike polisieman van die Langeberg K9-eenheid, 'n provinsiale komponent wat onder Kaapstad resorteer, is onlangs met 'n brons toekenning bekroon by die sesde jaarlikse Batho Pele-toekennings vir uitnemendheid in die kategorie vir beste dienslewering in die voorste linie (best frontline service delivery employee).
Sersant Jakobus Spangenberg het die eer ontvang as die eerste polisieman wat hierdie toekenning kry.
As dwelmhondbegeleier gaan hy egter ver buite sy normale pligte en het hy homself toegerus met vaardighede tot voordeel van die Suid-Afrikaans Polisiediens en die gemeenskap.
In die tydperk 1 Junie 2018 tot 31 Maart 2019 het hy 518 ure oortyd gewerk as gevolg van die verskeie verpligtinge, onder andere projekte, operasies, hofsake, ontplooiings en operasies in verskeie areas soos Laingsburg, Gansbaai, Oudtshoorn, Swellendam, Barrydale, Suurbraak en die hele Eden-distrik.
Op 'n vraag wat sy geheim tot sukses is, antwoord hy: "Dit is baie eenvoudig, gaan werk toe sonder 'n horlosie. Gaan werk toe om te gaan werk en nie om bloot net by die werk te wees nie." Hy noem ook dat 'n gesonde en sterk ondersteuningstruktuur, soos sy vrou en familie 'n bydraende faktor tot sy sukses is.
Spangenberg het in September 2019 'n ministeriële toekenning, asook 'n nasionale toekenning ontvang. Vir die afgelope 10 jaar handhaaf hy 'n 95 % werkverrigtingspeil, waar egter slegs 60% vereis word. Vir 'n tydperk van nege maande spog hy met meer as 450 arrestasie. Hy bestuur ook verskeie ander projekte buiten sy gewone werkslading.
Hy was vir 12 jaar nog nooit met siekverlof nie. Boonop verpes hy die idee dat "lede in die mag siekverlof bestuur". "Siekverlof is 'n voorreg, nie 'n reg," sê hy.
Vir Spangenberg is 'n groot deel van sy sukses te wyte aan twee senior persone in sy lewe. Eerstens, luitenant-kolonel Michael Goliath, van die provinsiale K9- en berede-eenheid en sy gewese eenheidsbevelvoerder, lt-kol Louw. Goliath het Spangenberg visie ondersteun en die nodige toestemming verleen vir sy optredes.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'