MOSSELBAAI NUUS - "Die polisie se bestuur op nasionale vlak reageer nie op die munisipaliteit se aanbod om 'n streekskantoor vir die Da Gamaskop-polisiesone (cluster) en behoorlike geriewe vir die KwaNonqaba-polisie op grond wat vir die doel gereserveer is, op te rig nie," sê die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee.
Dit spruit uit 'n vergadering van die raadskomitee oor beplanning en geïntegreerde dienste wat Woensdag, 11 Julie besluit het om aan te beveel dat die raad die versoek van die departement openbare werke goedkeur dat die huurtermyn vir die munisipale gebou wat die KwaNonqaba-polisie huisves verleng en die huurbedrag verminder.
Advokaat Giliomee het berig dat fasiliteite by hierdie polisiestasie hoegenaamd nie geskik is vir die doel waarvoor dit aangewend word nie, en het gesê die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het ook reeds herhaaldelik die probleme met die LUR vir veiligheid in die Wes-Kaapse regering, minister Dan Plato, opgeneem.
"Die geoormerkte grond vir die ontwikkeling van 'n streekpolisiesentrum is steeds beskikbaar. Tans huur die polisie kantore in die middedorp vir die Da Gamaskop-polisiesone. Die hoop bestaan dat die nasionale polisiebestuur wel op voorstelle en skrywes in hierdie verband sal reageer."
Raadslid Petrus Lechaba (ANC), die betrokke wyksraadslid, het ook sy kommer uitgespreek oor die werksomstandighede by hierdie polisiestasie.
Hy het gesê dit skep 'n ernstige probleem vir die gemeenskap wat van onvoldoende fasiliteite gebruik moet maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'