MOSSELBAAI NUUS - Met die feeseissoen voor hande, rig die Da Gamaskop-polisie 'n waarskuwing ten opsigte van die moontlikheid van rooftogte by besigheidspersele, sowel as die voorkoms van rooftogte in die algemeen in die stasie se bedieningsarea.
Volgens die kommunikasiebeampte van die stasie, kapt Wollie Fourie was daar die afgelope twee maande 'n toename in misdaad in die algemeen ten spyte van groter bewusmakingsveldtogte en verskeie voorkominings-aksies.
'n Toename in inwonergetalle en kapitaal dra ook by tot meer geleenthede vir oortreders om misdaad te pleeg.
Daar is veral kommer ten opsigte van die veiligheid en sekuriteit by besigheidspersele waar groot bedrae kontant teenwoordig is.
Die stasiebevelvoerder, kol Mark Hartzenberg het beklemtoon dat daar nie geleenthede vir oortreders geskep moet word nie.
"Verander gereeld die roete op pad bank toe om kontant in te betaal. Kweek 'n goeie verhouding met u werknemers en kry deur middel van goeie kommunikasie voorstelle aangaande voorkomingsmaatreëls."
Dit is ook raadsaam dat voorkomingsmaatreëls met personeel ingeoefen moet word.
"Hoe beter jy voorbereid is, hoe beter sal jou personeel voornemende oortreders kan opmerk om sodoende moontlik rooftogte te voorkom."
'n Aantal huisrooftogte het ook in die D'Almeida-omgewing, asook Uitbreiding 6 voorgekom, waartydens plasmaskerm-televisiestelle asook selfone geroof is, aldus kapt Fourie.
"Diefwering by wonings asook 'n aktiewe buurtwag kan hierdie tipe misdaad voorkom."
Volgens kapt Fourie is inbrake by besigheidspersele in Voorbaai ook steeds 'n kopseer.
"Groter betrokkenheid van eienaars of bestuurders van ondernemings kan die risiko aansienlik verminder.
"Hoe meer betrokke jy by jou buurtwag of besigheidswag is, hoe meer is elkeen bewus van mekaar se veiligheid en hoe minder geleentheid is daar vir die pleeg van misdaad."
Wenke vir besigheidsrooftogte
- Moenie weerstand bied nie.
- Probeer ontspan
- Praat stadig.
- Moenie enige skielike bewegings maak nie.
- Moenie die alarm aktiveer nie.
- Moenie die rowers direk in die oë kyk nie.
- Gee die rowers tyd om te ontvlug.
- Observasietegnieke is belangrik om die oortreders te identifiseer.
Vir meer inligting, kontak die Da Gamaskop-polisie (044 606 2200).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'